Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Lerena pluk vir hom ’n lat met dié geveg

Daar is groot druk op Kevin Lerena om Saterdag in Kempton Park met een van sy beste boksvertonings nóg vorendag te kom.

Kevin Lerena verdedig sy junior swaargewigtitel van die IBO Saterdag vir die vyfde keer. Foto: Gallo Images

Lerena verdedig sy junior swaargewigtitel van die Internasionale Boksorganisasie (IBO) by Emperors Palace teen Sefer Seferi van Albanië.

Die feit dat Seferi al 40 jaar oud is en maar net 30ste op die IBO se ranglys is, het hierdie week kwaai kritiek by Lerena se kritici ontlok.

Lerena se vorige teenstander, Vasil Ducar, is in baie kringe ook as besonder gelukkig beskou om ’n titelkans te kry.

Lerena het boonop nogal teen Ducar gesukkel, hoewel hy agterna gesê het dit was omdat hy siekerig gevoel het.

Lerena het hierdie week gesê hy het sy “beste oefenkamp nóg” gehad en hy sien daarna uit om sy “beste vertoning tot nog toe” te lewer.

As hy Seferi nie uit die kryt uit blaas nie, moet hy maar weet dat die lang messe en die gifpenne vir hom uitgehaal sal word.

Seferi se vorige geveg was teen die 48-jarige Firat Arslan en voor dit het hy ’n vet tjek verdien deur ’n paar rondes vir die swaargewig Tyson Fury slaansak te speel.

Sy loopbaan is teen die einde, hoewel hy weliswaar steeds heelwat krytvernuf het.

Tyson Fury het Sefer Seferi in 2018 lekker afgestof. Foto: Getty Images

Dis die soort van teenstander teen wie Lerena moes geboks het voor hy ’n kampioen geword het, nie nou nie.

Nou sal Lerena met eier op sy gesig sit as hy teen Seferi vasval.

Voor dié kragmeting kan die voorgeveg tussen die junior weltergewigte Jabulani Makhense en Marios Matamba vir baie opwinding sorg.

TV: Die toernooi word Saterdag van 19:00 op SS 8 uitgesaai.

Meer oor:  Boks  |  Kevin Lerena
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.