Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Lerena se skuif kan goed én sleg wees

Hy het “gemengde gevoelens” voor Kevin Lerena se skuif na ’n swaarder gewigsafdeling.

So sê dié bokser se afrigter, Peter Smith, oor Lerena, tans die Internasionale Boksorganisasie se junior swaargewigkampioen, wat nou ook na die Wêreldboksraad se “bridgergewig”-kroon mik.

Kevin Lerena het in sy vorige geveg in November verlede jaar vir Patrick Ferguson van Amerika ’n goeie loesing gegee. Foto: Gallo Images

“Aan die een kant dink ek dit is ’n goeie ding. Dis ’n nuwe gewigsafdeling en hier is nou vir Kevin ’n kans om die heel eerste kampioen van dié afdeling vir die Wêreldboksraad te word,” sê Smith.

“Aan die ander kant is ek nie mal daaroor dat Kevin tussen gewigte op en af skuif nie.”

Lerena boks op 13 Maart by Emperors Palace in Kempton Park teen Bilal Laggoune van België vir die WBR se silwer bridgertitel. Die wenner sal na verwagting kans kry om vir die wêreldtitel teen ’n teenstander, wie se naam nog bekend gemaak moet word, te boks.

Daar is ’n kans dat dié teenstander die gedugte Oscar Rivas, wat al sy merk in die swaargewigafdeling gemaak het, kan wees.

“So, ja dis ’n goeie geleentheid vir Kevin en hy is opgewonde daaroor. Dis nog deure wat vir hom oopgaan, maar ons sal nog sien wat die toekoms alles inhou,” sê Smith.

Smith sê daar is nog steeds goeie geleenthede vir Lerena in die junior swaargewigafdeling ook. Maar vir nou gee hy nie om as sy bokser so ’n paar kilogram optel vir sy komende geveg teen Laggoune nie.

Die Belg Bilal Laggoune gaan in Maart teen Kevin Lerena boks. Foto: Facebook

Laggoune is ’n 28-jarige Belg, wat al 25 oorwinnings in die beroepskryt gehad het. Hy het ook twee keer verloor en in nog twee gevegte gelykop geboks.

Een van sy nederlae was in sy laaste geveg op 31 Oktober verlede jaar teen Tommy McCarthy van Brittanje in die Wembley-arena in Londen. McCarthy was wel dalk ’n raps gelukkig om as die wenner én nuwe Europese junior swaargewigkampioen aangewys te word.

Laggoune se enigste ander nederlaag was teen Doudou Ngumbu van Frankryk, drie jaar gelede in die ligswaargewigafdeling.

Dmytro Kucher van Oekraïne en Joel Tambwe Djeko, ook van België, is die manne wat gelykop teen Laggoune geboks het.

Lerena en Laggoune het twee teenstanders gemeen.

Lerena het Kucher in 2018 oortuigend met punte geklop en hy het vir Gogita Gorgiladze van Georgië in 2014 in die derde ronde uitgeslaan.

Laggoune moes in 2014 uithaal om Gorgiladze met punte te troef.


Meer oor:  Boks  |  Kevin Lerena
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.