Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Lerena wen, maar Ducar se liefde seëvier
Kevin Lerena het die arme Ducar maar lekker rondgeslaan gedurende hul geveg in Kempton Park.Foto: Gallo Images

Kevin Lerena het die geveg gewen, maar Vasil Ducar het die meisie gekry.

Lerena het sy junior-swaargewigtitel van die Internasionale Boksorganisasie Saterdagaand by Emperors Palace in Kempton Park suksesvol verdedig deur Ducar gemaklik oor 12 rondes te verslaan.

Terwyl Brian Mitchell, voormalige wêreldkampioen en nou kommentator, agterna in die kryt onderhoude gevoer het, was dit egter Ducar wat die kalklig gesteel het.

Die aangename jong man het op sy een knie afgesak en sy meisie, Irena, gevra om met hom te trou.

Vasil Ducar vra sy meisie om met hom te trou in die kryt ná sy geveg teen Kevin Lerena.Foto: Gallo Images
Irena het ja gesê en soen Ducar se gekneusde lippe.Foto: Gallo Images

Irena, wat die meeste van die tyd maar benoud gelyk het terwyl Lerena haar geliefde in die kryt rondslaan, het “ja” gesê.

“Ek is maar net ’n klein vegter van ’n klein dorpie in ’n klein land (die Tsjeggiese Republiek) en dit was vir my ’n droom wat waar geword het om vir ’n wêreldtitel te veg,” het Ducar ook gesê.

Die beoordelaars het die geveg met 120-108, 119-109 en 117-111 aan Lerena toegeken. Hy het die geveg heeltemal oorheers en dit was in sommige opsigte sekerlik een van sy maklikste – en meer eensydige – gevegte in die beroepskryt.

Ducar het in die laaste paar rondes regtig hard probeer om die toeskouers darem iets te gee om oor opgewonde te raak.

Hy het egter nie regtig in dieselfde kryt as Lerena, wat soms verveeld gelyk het, gehoort nie.

“Alle krediet aan Ducar, hy is baie taai,” het Lerena ná die tyd gesê.

Hy het ook onthul dat hy voor die geveg griep gehad en gedurende die geveg gesukkel het om behoorlik asem te haal.

Rodney Berman, sy promotor, sê Lerena sal volgende oorsee – waarskynlik in Duitsland – boks.

Uitslae van die voorgevegte

Boyd Allen (links) en Alexandr Zhuravskiy (regs) van Kazachstan het gelykop geboks in een van die voorgevegte.Foto: Gallo Images

* Junior-weltergewig: Jabulani Makhense klop Michael Mokoena met punte oor 12 rondes.

* Junior-middelgewig: Boyd Allen en Alexandr Zhuravskiy boks gelykop oor agt rondes.

* Junior-swaargewig: Keaton Gomes klop Amador Kalonji met punte oor ses rondes.

* Junior-kapokgewig: Ricardo Malajika klop Arnel Lubisi met ’n uitklophou in die eerste ronde.

* Middelgewig: Aidan Quin klop Pieter de Klerk met ’n tegniese uitklophou in die derde ronde.

Meer oor:  Rodney Berman  |  Kevin Lerena  |  Kempton Park  |  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.