Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Lewis bly die koning van kwalifisering
Lewis Hamilton

’n Mens begin wonder wat die beroepswedders deesdae doen as dit by Formule Een kom.

Dalk kan jy geld wed op wie in die laaste drie plekke vir ’n Grand Prix kwalifiseer, want hulle kan sekerlik nie sinvolle wedsyfers gee vir wie voor gaan wegspring nie.

Lewis Hamilton neem vandag vir die 97ste keer in sy loopbaan die voorste wegspringplek in. Dit is ook sy sesde spoorsnyer-plek uit 11 renne vanjaar.

Asof dit nie reeds bewys hy is die koning van kwalifisering nie, het sy vertoning gister dit net weer onderstreep.

Sy Mercedes-spanmaat, Valtteri Bottas, het letterlik die hele naweek verrigtinge op die Portimao-baan in Portugal oorheers. Hy het in oefensessie na oefensessie die beste tyd opgestel, asook in die tweede kwalifiseringsessie.

Dit het gelyk of Hamilton nie dieselfde gevoel vir die baan het nie, veral nadat hy in die derde oefensessie van die baan gery het – iets wat die Brit nie sommer doen nie.

Selfs in die derde, en bepalende, kwalifiseringsessie waaraan net die toptien deelneem, het die Fin die vinnigste tyd opgestel.

Hy het oorheers tot minder as ’n minuut voordat die geruite vlag die einde van verrigtinge aangekondig het.

Toe kom Hamilton met ’n finale maak-die-sak-houtskool-leeg-op-die-vuur-rondte vorendag en klop sy spanmaat met ’n tiende van ’n sekonde.

As Bottas Spaans was en nie die Finne se gelykmatige, pragmatiese geaardheid gehad het nie, sou hy sweerlik uit frustrasie sy helm tot anderkant die paviljoen gegooi het.

Max Verstappen (Red Bull) spring weer derde weg en Charles Leclerc het ’n heel skaflike vierde wegspringplek vir Ferrari verseker.

Hamilton het daarna gesê hulle het tydens die laaste sessie albei vir ’n tweede keer met mediumsagte bande uitgegaan op die baan. Bottas het gekies om net een baie vinnige rondte op te stel, terwyl hy besluit het om vroeër uit te gaan en meer rondtes af te lê. Sy bande was letterlik beter “ingery” teen die tyd dat hy by sy blitsrondte gekom het.

Hamilton se ervaring, tesame met sy bondels talent, maak van hom almal se Nemesis. Ook sy spanmaat s’n.

Dié voorste wegspringplek bied natuurlik aan hom die kans om vandag sy en Michael Schumacher se gedeelde rekord van 91 oorwinnings in die mees mededingende en moeilikste klas van motorsport te breek.

Meer oor:  Lewis Hamilton  |  Grand Prix  |  Formule Een  |  Portugal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.