Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Lewis Hamilton sê die seisoen is nog lank

Formule Een se verdedigende wêreldkampioen, Lewis Hamilton, glo dat ’n moeilike begin van die sport se nuwe seisoen op hom en sy Mercedes-span wag.

Die Brit, wat vier van die laaste vyf wêreldtitels gewen het en nou ’n vyfmalige wêreldkampioen is, het gesê sy span het hope werk om te doen voor die naweek se Australiese Grand Prix en is lugtig vir Ferrari.

’n Ontspanne Lewis Hamilton Donderdag in Melbourne se Albert Park, waar die Australiese Grand Prix die naweek plaasvind. Foto: Reuters

Die Ferrari-motor het in die voorseisoense toetse indrukwekkende spoed en betroubaarheid gehad.

Hamilton het verlede jaar ’n stadige begin van sy seisoen gehad, en sy eerste sege in die reeks was eers in die vierde ren in Azerbeidjan. Dis teen die agtergrond daarvan dat hy sê hy fokus eerstens daarop om sy W10-motor Sondag in Melbourne se Albert Park oor die eindstreep te kry, voor hy aan wen begin dink.

Dis volgens hom onwaarskynlik dat die tuiste van die wêreldtitel reeds in die vroeë stadium van die seisoen bepaal sal word.

Hy het Donderdag aan verslaggewers by Albert Park gesê dit is ’n lang seisoen en hy voel geen druk om te wen nie.

“Die belangrikste is eers om die renne te voltooi, soveel punte te verdien as wat jy kan en die motor se vertoning te ontleed.

“Dis moeilik om te weet wat ander doen. Natuurlik sal ons eers (Vrydag) ’n aanduiding daarvan kry. Ons het gesê ons het werk om te doen en dis nie net praatjies nie. Ons hét werk om te doen.”

Mercedes is een van net twee spanne wat die seisoen met dieselfde jaers as verlede jaar sal afskop, saam met die Haas-span. Soos in 2018 en 2017 is die Fin Valtteri Bottas weer Hamilton se spanmaat.

Waar Hamilton se vennootskap met die uitgetrede 2016-kampioen Nico Rosberg vol spanning was, kom die 34-jarige veel beter oor die weg met Bottas. Die Fin is aansienlik minder mededingend as sy Duitse voorganger.

“Ons het ’n wonderlike span en die bydraes wat ek en Valtteri as kombinasie maak, werk nou al jare lank goed. Daar is geen rede om dit te verander nie,” het Hamilton gesê.

Die belangrikste is eers om die renne te voltooi, soveel punte te verdien as wat jy kan en die motor se vertoning te ontleed.
Lewis Hamilton

Sebastian Vettel, Ferrari se ster-jaer, het vanjaar ’n nuwe spanmaat in die vorm van Monaco se Charles Leclerc.

Vettel het Donderdag gesê dit staan Leclerc vry om mee te ding vir die boonste trappie op die podium en het daarmee sprake dat sy aanslag op ’n vyfde wêreldtitel voorrang sal geniet, ’n nekslag toegedien.

Ferrari se nuwe spanbaas, Mattia Binotto, het vroeër vanjaar gesê Vettel sal “as die span se kampioen” voorkeurbehandeling in sekere situasies geniet, hoewel hy bygevoeg het dat die twee Ferrari-jaers mekaar op die baan mag aanvat.

Vettel, wat hoop vir ’n derde agtereenvolgende sege in die Australiese Grand Prix, het half geïrriteerd gesê hy verdien nie spesiale behandeling nie.

“Ek dink dis duidelik – en ek dink Mattia het dit ook duidelik gemaak – dat ons (hy en Leclerc) teen mekaar mag jaag.

“Charles sal sy bes doen om homself te help en die span te help. Dis dieselfde geld vir my. Aan die einde van die dag jaag ons vir Ferrari en dit beteken ons moet Ferrari terugkry op die hoogtes waarna ons die laaste paar jaar mik.

“Dis die hoofprioriteit en wat die res betref . . . Dis ’n lang, lang seisoen en ek dink dis sinloos om nou op sekere scenarios te fokus.”

Leclerc, wat verlede jaar vir Sauber gery het, het Kimi Raikkonen se plek by Ferrari geneem. Die Fin is nou by die Alfa Romeo-span.

– Reuters

Meer oor:  F1  |  Lewis Hamilton  |  Mercedes  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.