Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Lewis ‘kry nie erkenning wat hom toekom’

Lewis Hamilton mag dalk die beste Formule Een-renjaer tot nog toe wees, maar “negatiwiteit” en “jaloesie” beroof hom van die erkenning wat hy verdien.

Lewis Hamilton is benewens sy Formule Een-loopbaan geesdriftig oor die mode- en musiekbedryf.Foto: Getty Images

Só glo sy spanbaas by die Mercedes-span, Toto Wolff.

Wolff sê mense sal dalk eers besef hoe goed Hamilton, vanjaar ’n vyfde keer as wêreldkampioen gekroon, is wanneer hy die sport verlaat het.

“Nie almal is bereid om erkenning aan ’n groot sportman of ’n groot loopbaan te gee terwyl dit nog aan die gang is nie. Daar is baie negatiwiteit en jaloesie,” het hy met verwysing na Hamilton gesê.

“Ek weet nie waarom mense ’n persoon met sulke grootsheid eers aan die einde van sy loopbaan wil huldig nie. Ons is baie bevoorreg om tans te sien hoe moontlik die grootste renjaer van alle tye deelneem.

Ek weet nie waarom mense ’n persoon met sulke grootsheid eers aan die einde van sy loopbaan wil huldig nie.

“Uiteraard het Michael (Schumacher) al die rekords behaal en was hy ongelooflik, maar Lewis is op ’n soortgelyke trajek,” het Wolff bygevoeg.

“Met Michael is hy ook eers werklik gehuldig vir sy prestasies nadat die tragedie (Schumacher se ernstige ski-ongeluk) plaasgevind het. Dis ’n groot jammerte.”

Schumacher, wat volgende maand 50 jaar oud word, is nog nie weer in die openbaar gesien sedert hy vyf jaar gelede ernstige kopbeserings opgedoen het nie. Daar was al baie bespiegeling oor sy toestand, maar dit bly ’n dig bewaarde geheim.

Schumacher het in sy lang loopbaan 91 F1-wedrenne gewen, terwyl Hamilton nou by 73 trek.

Toto Wolff, hoof van Mercedes se Formule Een-renspan.Foto: Getty Images

Dié Brit het 51 van die 100 Grands Prix in die V6-turbo-era, wat in 2014 begin het, gewen en was baas in vier van die laaste vyf wêreldkampioenskappe.

Hamilton, saam met Schumacher en Juan Manuel Fangio die enigste jaer met vyf of meer wêreldtitels, het boonop al 83 keer die voorste plek op die wegspringrooster ingeneem – ’n F1-rekord.

Wolff sê ondanks al die kritiek wat Hamilton dikwels vanweë sy stralerjakker-leefstyl verduur, is hy oorgehaal om volgende jaar ’n sesde wêreldtitel te beklink.

Mercedes het vanjaar intussen ongekende sukses op die renbaan beleef. Nie net het dié span die F1-vervaardigerstitel ’n vyfde keer op ’n streep gewen nie, maar het George Russell die F2-wêreldtitel en Mick Schumacher (Michael se seun) die F3-wêreldtitel in motors wat deur Mercedes aangedryf word, gewen.

As ’n kersie op die koek het Mercedes ook in die Duitse Toermotor-kampioenskap (DTM) koning gekraai. – Reuters

Meer oor:  Lewis Hamilton  |  Toto Wolff  |  Michael Schumacher  |  Renjaer  |  Formule 1-Ren
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.