Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Lewis: My bande was soos ballonne

Lewis Hamilton het sy Pirelli-bande Sondag met ballonne vergelyk, nadat hy en sy Mercedes-spanmaat Valtteri Bottas albei probleme in die 70ste Herdenking-Grand Prix by Silverstone ervaar het.

Lewis Hamilton is duidelik ontevrede terwyl hy van sy motor wegstap ná sy tweede plek Sondag by Silverstone. Foto: Getty Images

Net ’n week nadat hy by die einste Engeland-renbaan op drie wiele gewen het nadat die vierde in die laaste rondte gebars het, het Hamilton gesê hy was dié keer ook bang een van sy bande kan ontplof.

Drie motors se bande het verlede naweek gebars, maar Pirelli het nietemin voortgegaan met sy besluit om sagter bande met ’n hoër druk as voorheen te verskaf. Baie spanne het hul kommer daaroor uitgespreek.

Hamilton en Bottas moes Sondag met onderskeidelik die tweede en derde plek tevrede wees, nadat Red Bull se Max Verstappen sy eerste sege van die seisoen en negende van sy loopbaan behaal het.

Mercedes se grootste probleem op die dag was volgens Hamilton wéér hul bande.

“Dit was ’n massiewe uitdaging vandag,” het hy gesê. “Maar geluk aan Red Bull, en aan Max. Hulle het goeie werk gedoen.

“Hulle het nie die probleme gehad wat ons gehad het nie. Ons is onkant gevang deur hoe erg die blase op ons bande was.”

Die Brit was dankbaar om die ren te oorleef sonder ’n pap band. Boonop kon hy teen die einde selfs ’n bietjie spoed optel om die tweede plek voor Bottas se neus weg te raap.

“Ek is bly ek kon vorder soos ek het. Ek het nogal hard gedruk,” het hy gesê.

“Die span sal nou hard werk om ons bandprobleme te identifiseer. Pirelli het verlede week ook probleme gehad. Die druk in die bande gaan net op en op en op, so dis soos ballonne, jy weet?

“Ek is nie seker of enigiemand anders soveel soos ons gesukkel het nie, so ons sal die kwessie ondersoek.”

Hamilton het gesê hy was senuweeagtig in die motor omdat hy sy bande moes bestuur.

“In die middel van die ren, selfs in die eerste deel, het ek begin terugval na Max toe. Ek het die bande probeer bestuur soos jy nie kan glo nie.

“Een helfte (van die bande) was kaal, en die ander helfte oukei. Maar teen die einde het ek met ’n halwe band gery. Ek was bang dit ontplof.”

Vir Bottas was die probleme met die bande nie sy enigste frustrasie nie. Hy was ook nie tevrede met Mercedes se strategiese besluite nie.

“My strategie was ver van ideaal en ons het baie om te leer uit vandag. Ek het ’n geleentheid gehad om te wen, uit die kroonposisie, en ek het ’n geleentheid gehad om by te hou by Max, maar toe ons die bande begin druk, het dit uitmekaar geval.

“Die bande het oorverhit. Dit kook basies. Jy kry gate in die bande en verloop jou greep.”

Meer oor:  F1  |  Lewis Hamilton  |  Mercedes  |  Motorsport  |  Pirelli
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.