Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Lewis omgekrap omdat F1 bots

Lewis Hamilton is kwaad vir Formule Een se baadjiedraers omdat die Britse Grand Prix Sondag met krieket se Wêreldbeker-eindstryd én die Wimbledon-tennistoernooi se mansenkelspel-eindstryd moet meeding.

“Ek kan nie verstaan waarom die organiseerders die wedstryd vir dieselfde dag as daardie ander groot byeenkomste skeduleer nie,” het Mercedes se vyfmalige wêreldkampioen Donderdag aan verslaggewers gesê.

“Ek hoop hulle vind in die toekoms ’n spesiale naweek vir dié Grand Prix. Die hele land se fokus moet hierop wees.

“Ek dink mense gaan Sondag die heeltyd van TV-kanale verwissel,” sê hy.

Lewis Hamilton neem ’n selfie van hom en ’n beampte by die Silverstone-baan in Engeland. Dié renjaer sê al het hy net één ondersteuner, sal dit steeds ’n voorreg wees. Foto: AP

Wimbledon-eindstryde is op sigself ’n hoogtepunt op die sportkalender, maar dat Engeland boonop in die WB-eindstryd speel, gaan dit besonder moeilik vir entoesiaste maak om ook aan die Britse Grand Prix aandag te gee.

Hamilton is die oorweldigende gunsteling om sy tuiswedren te wen, nadat hy vanjaar reeds ses keer eerste verby die geruite vlag gejaag het. Hy het boonop vier van die laaste vyf wedrenne by Silverstone gewen en was die afgelope vier jaar elke keer in die voorste wegspringposisie.

Ondanks die groot sportbyeenkomste elders in Engeland, word daar verwag dat meer as 140 000 toeskouers Sondag by die Britse Grand Prix sal opdaag.

Dié tipe bywoningsyfers herinner aan die vroeë 1990’s, toe daar “Mansell-manie” in Brittanje was en die Britse renjaer Nigel Mansell ’n geweldige groot trekpleister was.

Ten spyte van sy ongelooflike sukses, is baie Britte egter verdeeld oor Hamilton.

Toto Wolff, sy spanbaas by Mercedes, het ook vandeesweek hierop gewys en gesê hy kry in sy eie land nie genoeg erkenning vir sy geniale bestuursvernuf en prestasies nie.

Hamilton is byvoorbeeld in 2018 in Italië, die tuiste van Ferrari, as die Sportman van die Jaar aangewys.

Hamilton self steur hom nie veel daaraan dat hy nie dieselfde steun geniet as Mansell in sy fleur nie.

“Mense het die reg om te ondersteun wie hulle wil. Toe ek in Stevenage grootgeword het, het ek nooit in ’n miljoen jaar gedink dat enigiemand anders as my ma en pa my sou ondersteun nie. Dis ’n voorreg om selfs net een ondersteuner te hê.”

– Reuters

* Saterdag se kwalifiserende rondes is van 14:55 op SS 2.

* Sondag se Grand Prix is van 15:05 op SS 1.

Meer oor:  F1  |  Lewis Hamilton  |  Wimbledon  |  Wêreldbekerkrieket  |  Eendagkrieket  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.