Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Lewis se blitsige oefenrondtes

As peil getrek kan word op Vrydag se oefensessies vir Sondag se Australiese Formule Een-Grand Prix, sal die verdedigende kampioen, Lewis Hamilton, vanjaar weer dopgehou moet word.

Dié 34-jarige Brit, ’n vyfmalige kampioen, se vinnigste rondte was 1:22:60, met sy spanmaat, Valterri Bottas (Finland), 0.048 sekondes stadiger.

Die Brit Lewis Hamilton tydens Vrydag se oefenrondes in Melbourne. Foto: Getty Images

Die Nederlander, Max Verstappen (Red Bull), het die derde vinnigste tyd aangeteken, met nog ’n renjaer van Red Bull, Pierre Gasly (Frankryk), die vierde vinnigste.

Waar Hamilton (Mercedes) die afgelope week versigtig was om na homself as ’n vroeë gunsteling te verwys, was hy duidelik Vrydag vol selfvertroue in Melbourne.

“Ek het ’n positiewe gevoel gekry toe ek gery het. Die kar voel dieselfde as toe ek dit in Barcelona getoets het, wat positief is omdat dit op ’n ander baan is.

“Ons het goed deur ons program gegaan en daar was geen probleme op die baan nie,” het Hamilton gesê.

Lewis Hamilton in ’n gemoedelike luim in Melbourne. Foto: Getty Images

Een van sy vernaamste teenstanders, die Duitser Sebastian Vettel (Ferrari), kon slegs die vyfde vinnigste tyd aanteken, nadat hy ’n keer op die gras beland het en oor die span se radio gekla het oor die hantering van sy motor.

Vettel se nuwe spanmaat, Charles Leclerc, het die negende vinnigste tyd aangeteken, en het self ’n keer op die gras gaan draai.

Maar dit sal net ’n dwaas wees wat te veel in Ferrari se vertoning lees.

Vettel, ’n viermalige kampioen, is uitgeslape en sal hoop om Hamilton vooraf op sy gemak te sit. Hyself het ’n donker prentjie geskets en gesê dat sy motor nie dieselfde as tydens toetssessies was nie.

“Dit was ’n moeilike dag vir ons, heel waarskynlik was dit vir niemand ’n maklike dag nie.

“Ons is nog nie waar ons wil wees nie, nie soseer in terme van tye nie, maar hoe die motor voel en sy hantering. Ons kon nie regtig in die ritme kom nie,” het Vettel gesê, en erken dat sy selfvertroue op ’n laagtepunt is.

Hoewel Verstappen redelik stadiger as Mercedes se jaers was, sal die span vertroue daaruit put dat die span sonder enige probleme Vrydag voltooi het.

“Ek dink nie ons kan al tevrede wees nie . . . ons moet beter vertroud wees met die bande. Ons het egter baie dinge gesien waarop ons kan verbeter, maar in die geheel was daar geen groot probleme nie,” het Verstappen gesê.

Ons het goed deur ons program gegaan en daar was geen probleme op die baan nie.
Lewis Hamilton

Finland se Kimi Räikkönen (Alfa Romeo), wat in 2007 wêreldkampioen was, en nog tot 2018 vir Ferrari gery het, het die sesde vinnigste tyd in die tweede oefening aangeteken.

Williams se Robert Kubica van Pole, wat die eerste keer sedert 2010 in Formule Een in aksie sal wees, was 20ste in die tweede oefening, een plek voor sy spanmaat, die nuweling George Russell (21) van Brittanje.

* ’n Sitplekgordel het die plaaslike Daniel Ricciardo (Renault) gekniehalter in die oefenrondes.

“Ons is albei kere ’n bietjie vertraag, dit was net ’n paar dinge met die sitplekgordel,” het Ricciardo volgens motorsport.com gesê, nadat hy slegs die agtste vinnigste tyd in die tweede oefening kon aanteken.

“Dit was eintlik vreemd, omdat hy (die gordel) baie los gesit het. Hulle het ’n klein verstelling gemaak en hulle kon hom nie stywer maak nie. Dis asof die verstellings uit was, maar ons sal dit uitsorteer,” het Ricciardo gesê.

Hy het verslaggewers laat skater toe hy gesê het dat die sitplekgordel hom rondom sy “manlike” dele gehinder het.

“Ek het nie vet geword nie. Ek het nie soveel hierdie week geëet nie,” het hy volgens grandprix247.com gesê. – Reuters

TV: Sondag 07:05 (SS 6).

Meer oor:  F1  |  Lewis Hamilton  |  Sebastian Vettel  |  Grand Prix  |  Formule Een  |  Australië  |  Max Verstappen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.