Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Liga-kampioene se paaie kruis weer
Sikholiwe (Sne) Mdletshe van die Crinums wen Sondag balbesit in haar netbalspan se halfeindstryd teen die Fireballs. Links is Romé Joubert, aanvallende vleuel van die Gautengers. Foto: Gallo Images
Vergeet van Covid-19! Emosie kry die oorhand nadat die Crinums die Fireballs geklop het. Foto: Gallo Images

Net twee spanne is al as kampioene in Suid-Afrika se Nasionale Netballiga gekroon.

Dit is heel gepas dat ná 12 dae se uitmergelende wedstryde in Bloemfontein het die Jaguars van Noord-Gauteng en die Vrystaatse Crinums hul plekke in Dinsdag se eindstryd bespreek.

Albei spanne het Sondag in hul halfeindstryde gewys waarom hulle al met die titel weggestap het.

Makasi Yandiswa van die Oos-Kaapse Aloes verdedig van agter teen die Tornados se Sasha-Lee Petersen. Die Aloes het met 37-26 gewen.

Dit is wat kampioene in uitklopwedstryde doen – gryp die groot oomblik aan.

In ’n naelbytstryd het die Crinums met 38-37 deurgeskuur teen die Gautengse Fireballs, terwyl die Jaguars ’n maklike oorwinning van 42-36 oor die Southern Stings behaal het.

Dit sal die Vrystaters se eerste eindstryd sedert 2017 wees. Die Pretorianers speel in hul sewende agtereenvolgende eindstryd en is die kampioene sedert 2017.

Maar watter vertoning was dit nie deur die Fireballs nie.

Dié Gautengse span is verlede week erg uitgedun deur beserings aan sleutelspelers, maar hy het in die loopgrawe baklei.

Theresa Rossouw, afrigter van die Sunbirds.

Die Fireballs was stadig uit die blokke en toe hulle ná die eerste kwart met 4-12 agter was, het almal ’n groot loesing sien kom.

Renske Stoltz, die Fireballs se hulpdoel, was akkuraat en het weer gewys sy het die temperament vir die groot oomblik.

Maar Sikholiwe Mdletshe, verdedigende vleuel van die Crinums, het die ommekeer bewerkstellig. Met die telling 37-37 in die doodsnikke en die Fireballs op pad na hul doelsirkel, het sy ’n bal uit Bongiwe Msomi se hande gepluk en na haar doelsirkel afgestuur.

Daar het Rolene Streutker (hulpdoel) die wendoel gesink.

Covid-19 het die Crinums van tuisondersteuners weerhou, maar die span se plaasvervangers het hul deel gedoen en toe die eindfluitjie blaas, was dit ’n emosionele oomblik vir die hele span.

Burta de Kock, die Crinums-afrigter, sê hulle is geseënd.

“Ons het die geleentheid met albei hande aangegryp. Dit is wonderlik dat die jongelinge sulke emosie kan ervaar dat ons dit kan doen en in ’n eindstryd speel,” het sy gesê.

Die Stings, verlede jaar se naaswenner, en die Fireballs sal Maandagaand om die derde plek uitspeel.

Die Wes-Kapenaars het in die tweede helfte – ná veranderinge aan die span – probeer terugveg, maar dit is te veel gevra in kwarte wat net 12 minute duur.

Jy kan nie inhaalnetbal teen die Jaguars speel nie.

Die kwarttellings was 10-7, 21-16 en 34-26.

Intussen was daar drama in Afdeling B.

Die Mpumalanga-Sunbirds het hul halfeindstryd teen die Kingdom Queens met 43-42 gewen, maar dié uitslag is later ongeldig verklaar.

Theresa Rossouw, hul afrigter, het vergeet van die kwota-polisie.

Sy het die hele tweede kwart met 6/1 gespeel (ses swart spelers, een wit). Die formaat op die baan moet wees 5/2 of 4/3, maak nie saak watter kleur nie.

Volgens die reëls kan ’n span enkele minute van die voorskrif afwyk, maar nie ’n hele kwart nie.

Netbal Suid-Afrika (NSA) sê die reël is daar sodat al 12 spelers gelyke geleenthede kry.

Die Queens van KwaZulu-Natal sal nou Maandag in die eindstryd teen die Oos-Kaapse Aloes speel.

Dieselfde lot het Limpopo se Baobabs Saterdag getref. Hulle het die Aloes met 39-28 geklop, maar ook hul kwota was verkeerd.

• Maandag se program: 15:00: Sunbirds t. Tornados; 17:00: Aloes t. Queens; 19:00: Stings t. Fireballs.

• TV: Vanaf 15:00 op Variety 4 (209).

Meer oor:  Netbal  |  Nasionale Liga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.