Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Lill oefen groot spronge op tuisbaan

Die Kaapse bergfietsryer Candice Lill het haar huiswerk gedoen oor die uitdagende, tegniese Izu-baan waarop die Olimpiese veldwedrenne beslis word.

Die vrouekompetisie word Dinsdag beslis en Lill (29) sal in haar tweede Spele aantree.

Candice Lill (Faces-span) sal Dinsdag haar staal wys in die Olimpiese veldwedrenne. Foto: Xavier Briel

Nick Floros, die man wat die baan ontwerp en uitgelê het, is ’n Suid-Afrikaner en Lill sê sy het hom gebel en hy het haar baie inligting oor die baan gegee.

“Ek het spesifieke voorbereiding vir die baan gedoen.”

Haar man, Darren, ’n gewese Suid-Afrikaanse padfietsryer, het by hul huis in Kaapstad ’n replika gebou van een van die groot spronge op die baan.

“Ek het dit oor en oor geoefen en toe ek hier kom, lyk dit selfs kleiner as die een by die huis.”

Lill is egter onder geen illusies wat op haar wag nie. Sy is die enigste Suid-Afrikaanse vrou in die kompetisie.

Sy is einde Mei verrassend bo Mariske Strauss, die Afrika- en Suid-Afrikaanse kampioen, vir die Spele-span gekies.

Lill sê die Izu-baan is baie tegnies, met rotse, groot spronge en die grond is droog en losserig.

“Suid-Afrikaanse ryers is gewoond aan sulke toestande, asook aan die hitte.

“Ek hou daarvan om oor klipperige terrein te ry, ek geniet dit al vandat ek ’n kind was.

Europa het nie verloop soos ek beplan nie. Ek het terug huis toe gekom en hier voorberei en geestelik is ek nou op ’n beter plek.

“Ek het selfvertroue dat ek goed sal vaar op daardie dele,” sê Lill.

Deelnemers sal steil klimme moet oorkom.

“Jy staan onder en kyk op en dink by jouself ‘hoe gaan ek daar bo kom?’ Televisie wys nie die ware prentjie nie.”

Lill het nie goeie uitslae in die Wêreldbeker-byeenkomste in Europa behaal nie.

In Albstadt, Duitsland, was sy 31ste, in Nové Mesto na Morave, Tsjeggië, 47ste en 45ste in Leogang, Oostenryk.

“Europa het nie verloop soos ek beplan nie. Ek het terug huis toe gekom en hier voorberei en geestelik is ek nou op ’n beter plek.

“Die veldwedrenne in die Spele is oop, daar is ’n kleiner veld as in Wêreldbeker-byeenkomste.

“En Tokio is gelukkig nie Europa nie – dit gaan hopelik nie reën en modderig wees nie.

“Dit hou ’n voordeel in vir deelnemers wat gewoond is aan droë toestande en warm weer,” sê Lill.

Die Kapenaar het in 2012 as 20-jarige haar Olimpiese debuut gemaak en 28ste geëindig.

Suid-Afrika het in 2016 geen vrou vir die bergfietsry gekies nie.

• Jenny Rissveds van Swede is die verdedigende kampioen.

Loana Lecomte van Frankryk het vanjaar al vier Wêreldbeker-byeenkomste gewen.

• TV: Dinsdag 08:00 (SS 206).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.