Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Lof stroom in vir Hamilton ná rekord

Net twee weke nadat hy in Duitsland Michael Schumacher se 91 Formule Een-oorwinnings geëwenaar het, het Lewis Hamilton met nóg ’n skitterende vertoning in Portimao sy naam in motorsport-geskiedenis verewig.

Lewis Hamilton spring Sondag uit sy renmotor nadat hy die Portugese Grand Prix in Portimao gewen en die wêreldrekord verbeter het. Foto: AP

Hamilton (Mercedes) het Sondag in die Portugese Grand Prix byna ’n halfminuut voor Valtteri Bottas verby die geruite vlag gejaag om sy 92ste oorwinning te behaal.

Hy is nou die alleenhouer van die rekord vir die renjaer wat die meeste Grand Prix-seges behaal het.

Verskeie oudrenjaers het die 35-jarige Brit ná dié groot prestasie lof toegeswaai.

“Ek wens Lewis geluk met sy verstommende sukses om Michael se rekord te verbeter,” het die driemalige wêreldkampioen Jackie Stewart aan die nuusagentskap PA gesê.

Lewis Hamilton saam met sy pa, Anthony, en stiefma, Linda. Foto: Getty Images

“Lewis het ’n indrukwekkende loopbaan uitgekerf – van knortjor-wedrenne tot sy verbintenis met Ron Dennis by McLaren en dan natuurlik die skitterende Mercedes-Benz.

“Ek haal my hoed af vir hom met sy verstommende prestasies en ek wens hom sterkte toe vir die res van sy loopbaan.”

Stewart sê Hamilton is beslis een van die beste sportmanne in die geskiedenis en ’n inspirasie vir baie jong mense.

Damon Hill, die wêreldkampioen in 1996, het op Twitter gesê: “Nou kan ek nie meer sê ek het die beste jaer in F1 geklop nie.

“Ek het egter ’n goeie lopie gehad. Dankie @schumacher en welkom @LewisHamilton. Beste van alle tye (GOAT).”

Die vorige keer toe ’n Grand Prix in Portugal aangebied is – in 1996 – was Hamilton ’n 11-jarige seun van Stevenage, wat Brittanje se knortjor-wedrenne oorheers het.

Hy het die Kampioen van die Toekoms-reeks gewen.

Min sou hy toe weet, dat hy byna ’n kwarteeu later op die drumpel sou staan om sy sewende wêreldtitel te wen.

Ná sy oorwinning in Portugal is hy 77 punte voor op die puntelys.

Hamilton se pa, Anthony, het tegelykertyd vier poste beklee om sy seun se loopbaan in motorsport op dreef te kry.

Hy was Sondag heel gepas vir die eerste keer dié seisoen langs die baan om sy seun se prestasie te aanskou.

Roscoe het sy baas se prestasie aanskou. Foto: Getty Images

Pa en seun was vir ’n paar jaar vervreem nadat Lewis hom in 2010 as sy bestuurder afgedank het.

Sondag ná die wedren het hulle mekaar lank omhels.

Hamilton sr. het toe met sy iPad die reaksie van die bykans 30 000 toeskouers afgeneem toe sy seun vir die 92ste keer ’n F1-wennerstrofee gelig het.

Hamilton het op sosiale media gesê: “Vandag dink ek aan Michael.

“Ek sal vir altyd die grootste bewondering en respek vir jou hê. Dit is regtig ’n groot eer om in dieselfde sin as jy genoem te word. Ek kan net dink aan waar ek vandag is.

“Ek is 35 jaar oud en liggaamlik voel ek sterk. Maar jy kan nie help om te wonder wanneer dinge dalk gaan verander of wanneer jou vertonings verswak nie.

“Te oordeel aan vandag, is dit nie nou al nie,” het Hamilton gesê. – TeamTalk

Meer oor:  Lewis Hamilton  |  Formule Een  |  Motorsport  |  Brittanje
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.