Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Macho-man wat nie skaam was om mini’s te dra
Héctor Camacho (regs) met sy interessante boksbroekie in 1989 teen Ray Mancini in aksie. Foto: Getty Images

Dis boks hierdie, maar daar klim ’n ou wat soos ’n Romeinse soldaat aangetrek is in die kryt!

En nou pluk die ou sy soldaatklere af en daar staan hy nou in iets wat meer soos ’n goue mini-rokkie as ’n broek lyk!

Jy wil lag, maar jy keer jouself, want jy weet daardie ou met sy mini aan se naam is Héctor Camacho. Die macho-man. En jy weet jy moet hom nie op sy kleredrag takseer nie. Dié man kan boks.

Of liewer, die man kón boks. Camacho is in 2012 oorlede, maar sy naam is die afgelope paar weke weer baie in bokskringe gehoor.

Vir sy geveg teen Sugar Ray Leonard het Héctor Camacho as ’n Romeinse soldaat opgedaag. Foto: Getty Images

Die rede daarvoor is omdat Camacho se seun, Héctor junior (42), hierdie naweek in Guadalajara, Mexiko, in ’n vertoongeveg teen die legendariese Julio César Chávez gaan boks.

Die geveg maak deel uit van ’n boksfees waaraan Chávez en sy twee seuns deelneem.

Chávez, nou al 58 jaar oud, het in 1992 met Camacho kragte gemeet en met punte verloor.

Die twee vegters het egter aanklank by mekaar gevind en Camacho junior het vandeesweek meer oor sy pa se vriendskap met Chávez vertel.

“My pa en Julio het lekker saamgekuier. Hulle het dan kwaai partytjie gehou en vir mekaar die gekste stories vertel. My pa sou sommer vir ’n week lank by Chávez kuier,” het Camacho jr. gesê.

Vir ’n lekker partytjie kon Camacho eenvoudig nie nee sê nie.

Hy het arm grootgeword in Bayamon in Puerto Rico. Sy pa was ’n alkoholis en het sy ma gereeld aangerand.

Sy ma het met haar kinders gevlug, maar Camacho kon nie van daardie gedrink en geweld af wegkom nie.

Polities korrek? Héctor Camacho, wat in Puerto Rico gebore is, het gemaak en aangetrek nes hy wou. Foto: Getty Images

Hy was gou ’n straatvegter en motordief, wat vroeg met alkohol en dwelms te doen gekry het. Gelukkig vir hom het hy ook by ’n boksklub beland en daar is die fondament gelê vir die fortuin wat hy later met sy vuiste as beroepsbokser sou verdien.

Camacho het in 1980 vir geld begin boks en het 38 gevegte gewen voordat hy teen Greg Haugen verloor het. Die nederlaag teen Haugen het hy gou gewreek en uiteindelik wêreldtitels in drie verskillende gewigsafdelings verower.

Hoewel hy ’n briljante bokser was, het hy mense se mond laat oophang met die bisarre klere wat hy aangetrek het wanneer hy na die kryt gestap het.

Daar was die keer toe hy soos Romeinse soldaat aangetrek was. En toe soos ’n Amerikaanse soldaat uit die Tweede Wêreldoorlog. En wat van die keer toe hy met ’n verehooftooisel, soos dié wat inheemse Amerikaanse Indiane op ’n tyd gedra het, in die kryt geklim het?

Is dit ’n kraai wat pas uit ’n vullisdrom geklim het? Nee, dis Héctor “Macho” Camacho! Foto: Getty Images

Mense dink Deontay Wilder se kop raas omdat hy ’n masker opsit wanneer hy kryt toe stap; wat dan van Camacho wat op ’n keer soos ’n kraai wat uit ’n vullisdrom ontsnap het, gelyk het?

“Hy was beslis ’n gelukkige ou in die sin dat hy met al die talent in die wêreld gebore is,” sê Eric Droth, ’n regisseur wat ’n dokumentêre film oor Camacho se lewe gemaak het.

“Hy was ’n natuurlike windmaker. Camacho was anders en dit het hom nie gepla nie. Hy was dieselfde mens binne en buite die bokskryt.”

Een van Camacho se grootste oorwinnings was in 1997 oor Sugar Ray Leonard. Hoewel albei boksers nie meer op hul beste was nie, word dit as ’n supergeveg beskou.

“Ek het gedink ek was groter, slimmer en sterker as hy, maar die eerste keer toe hy my tref, was dit soos, pow! Eina, dit was seer. Wanneer hy (Camacho) op sy beste was, was hy asemrowend,” onthou Leonard, wat met ’n tegniese uitklophou in die vyfde ronde teen Camacho verloor het.

Maar ai tog, die drank en die dwelms. Die uitsaaier Tim Ryan vertel Camacho het hom die aand voor sy geveg in 1983 teen John Montes in Alaska gebel.

“Hy was heeltemal gek van al die dwelms en wou by die hotel se venster uitspring,” vertel Ryan.

Die volgende dag het Camacho gemaak of niks gebeur het nie en het hy Montes in die eerste ronde uitgeslaan.

Teen die einde van sy loopbaan is Camacho ’n geveg teen Roy Jones junior aangebied. Camacho was oorgewig en hopeloos verslaaf aan kokaïen en alkohol.

Hy het begin oefen, net om ’n paar dae later vir sy helpers te sê: “Ek kan nie hierdie geveg aanvaar nie. Ek waardeer julle ouens se hulp. Maar ek wil net dwelms gebruik. Ek is ’n kampioen, maar in die eerste plek is ek ’n verslaafde.”

Héctor Camacho het hom hier dalk verbeel hy is die een of ander superheld. Foto: Getty Images

Sy lewe het algaande uitgerafel. Hy is in 2005 in Gulfport, Mississippi, gevang terwyl hy by ’n winkel, wat elektroniese toerusting verkoop, ingebreek het. Sy een broeksak was vol Ecstasy en hy het die hele tyd soos ’n swaap gestaan en grinnik.

In 2011 het motorkapers hom drie keer geskiet toe hy en ’n vriend in ’n rowwe woonbuurt in San Juan by ’n kroeg gaan drink het.

’n Jaar later is hy in nog ’n skietery dood. Hy en sy vriend Adrian Mojico Moreno het in ’n swart Ford Mustang in ’n parkeerterrein in Bayamon gesit en ginnegaap.

Toe jaag ’n motor vol ouens, met wie Moreno moeilikheid gehad het, verby en hulle trek los en skiet die Ford Mustang vol gate.

Moreno is opslag dood, maar Camacho is met verskeie skietwonde na ’n hospitaal geneem, waar hy op 24 November 2012 op die ouderdom van 50 gesterf het.

• Bronne: sportscasting.com; forbes.com; sportingnews.com; worldboxingnews.net; badlefthook.com; thesportsman.com

Meer oor:  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.