Christie Mackenzie het Saterdag met ’n verbysterende eindpoging daarin geslaag om haar eerste Dusi-kroon te wen.

Christie Mackenzie (regs) klop Tamika Haw Saterdag in ’n naelbytren na die eindstreep van die Dusi-kanomarathon. Foto: Gameplan Media
Tamika Haw het Mackenzie tot die bitter einde opgekeil in dié kanovaart, wat in Durban geëindig het.
Andy Birkett het sy oorheersing van dié driedaagse byeenkoms bevestig deur sy negende titel te wen.
Min het Mackenzie en Haw geskei, want hulle het mekaar behoorlik opgedreun.
Hulle het beurte gemaak om die voortou te neem, op die water en met die hardloopskofte. Teen die einde was ’n naelbytren nodig om die wenner te bepaal en Mackenzie het die oorwinning met ’n enkele sekonde behaal. Haar algehele wentyd was 10 uur 11 sekondes.
Die laaste skof oor 32 km is tussen die Inanda-dam en Blue Lagoon beslis.
Mackenzie, ’n student van Varsity College in Durban, sê dit was senutergend.
“Ek het voor die skof vir myself gesê ek moet konserwatief roei en foute vermy, want ek het op die eerste twee dae so baie begaan,” sê Mackenzie.
Die verpligte draf-deel op en oor Burmaweg was bepalend wie ’n debuut-titel sou wen. Ook tóé het net meters die twee vroue geskei.
“Ek het nog nooit so hard teen Burmaweg opgehardloop nie,” sê Mackenzie. “Toe ons aan die ander kant weer in ons kano’s klim, was ek gedaan. Ek het geweet ek moet by Tamika bly, want ek het nie meer baie energie gehad nie.
“Omdat ek haar gister (Vrydag) in ’n naelbytstryd geklop het, was ek vol vertroue dat ek dit weer sou kon doen. Ek wou net seker maak dat ek teen die einde in ’n goeie posisie is.”
Birkett sê vanjaar se oorwinning was die moeilikste nóg.
Ook hy is kwaai uitgedaag deur Sbonelo Khwela. Birkett se wentyd was 8:09:48, met Khwela tweede in 8:11:55.
“Die Dusi het my vanjaar opgekeil. Ek was ná middernag baie siek. Die laaste dag was regtig harde werk,” sê Birkett.
“Ek wou net die momentum behou. Ek het geweet Sbonelo sou tyd inhaal op die plat water. Ek sal nie jok nie: ek is baie bly om Durban te sien en nie meer op die rivier swaar te kry nie.” – Sportredaksie