Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Malawiese boksheld nog vol lewe
Isaac Chilemba is duidelik nog nie reg om sy bokshandskoene weg te pak nie. Hier is hy in ’n vorige geveg teen Oleksandr Gvozdyk in aksie. Foto: Getty Images

Isaac Chilemba het die afgelope naweek in Rusland gewys dat hy nie deesdae net die bokshandskoene aantrek sodat jonger boksers hom kan opfoeter om sy naam op hul rekords te kry nie.

Chilemba, wat in Malawi gebore is en Suid-Afrika lank as basis gebruik het, het in Krasnogorsk gelykop teen Fedor Chudinov geboks.

Chudinov is ’n voormalige supermiddelgewigkampioen van die Wêreldboksraad en sy geveg teen Chilemba was veronderstel om hom net besig te hou.

Volgens Boxing Scene het Chudinov meestal vorentoe gekom en Chilemba se kop van sy lyf probeer afslaan. Chilemba het egter al sy krytvaardighede gebruik en punte met indrukwekkende kombinasies ingesamel.

Hy word al die afgelope paar jaar gereeld deur Roy Jones jr., wat verlede jaar in ’n vertoongeveg teen Mike Tyson gelykop geboks het, afgerig.

Chilemba is natuurlik self ’n voormalige supermiddelgewigkampioen van die Internasionale Boksorganisasie. Hy is op 32-jarige ouderdom betreklik jonk in boksterme, maar was al in verskeie oorloë in die bokskryt betrokke.

Hy het ’n paar jaar gelede na die ligswaargewigafdeling opgeskuif, waar hy onder andere gevegte teen kalante soos Sergey Kovalev, Tony Bellew en Dmitry Bivol gehad het.

Dit het begin lyk asof sy loopbaan einde se kant toe staan, maar nou het hy gewig afgeskud en sy vertoning as super-middelgewig teen Chudinov is ’n aanduiding dat hy nog nie oor die muur is nie.

Hy het reeds ’n kontrak geteken om op 12 April in Moskou teen ’n opkomende vegter met die naam Ali Izmailov te boks. Dié geveg sal glo in die ligswaargewig-afdeling wees.

Die Malawiese Boksbeheerraad het intussen onlangs volgens die aanlyn koerant Nyasa Times voelers na Chilemba uitgesteek om te vra dat hy in Malawi moet boks voordat hy uittree. Chilemba het nog nooit as beroepsbokser in sy geboorteland baklei nie.

Hy het as geldbokser reeds 27 gevegte gewen en sewe verloor met nog drie wat gelykop geëindig het.

Meer oor:  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.