Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Marizanne gesels met Sheldon

Op een bord het Sheldon Rostron ’n Suid-Afrikaanse vrouehokkiespan wat in uitdagende toestande gesond en aan die gang gehou moet word. Vir ’n tydjie verlede jaar het hy ook ’n bord met die nasionale manshokkiespan daarop in sy sorg gehad.

Sheldon Rostron Vrydag by sy idee van hemel: ’n hokkieveld waar spelers voorberei vir ’n wedstryd.Foto: Elizabeth Sejake

Die afgelope twee weke is Rostron nou boonop die man wat die wiele aan die draai moet hou by Pukke se sportdepartement. En by die huis het hy ’n vrou en woelwater van 19 maande oud wat hy onder geen omstandig­hede wil afskeep nie.

Op 33 moet Sheldon Rostron balanseertoertjies doen wat baie mense in ’n koue sweet sal laat uitslaan. Maar gelukkig sit hy nooit en dink hy wil daarvan weghardloop nie, sê hy Vrydag.

“Ek het nie tyd om sulke gedagtes te hê nie,” sê hy met ’n glimlag.

Rostron vlieg môre vir twee maande Europa toe vir ’n afrigterskursus in Nederland, ’n voorbereidingskamp vir vrouehokkie se Wêreldbekertoernooi in Engeland en daarna die skouspel self in Londen.

Sedert hy die afrigtingleisels van die vrouespan in 2015 geneem het, het Rostron dié span al vir meer as 100 wedstryde voorberei, en handevol vroue se hokkiedrome in sy hande gehou.

Daar was niks maklik aan die afgelope drie jaar nie, sê hy prontuit. Die uitdagings is legio: Daar is min geld in Suid-Afrikaanse hokkie, wat beteken die spelers moet tyd inruim vir die sport tussen studie of werk deur. Hulle (en hy ook) moet die meestal op hul eie koste na toernooie reis en heelparty spelers groet die sport as hulle klaar gestudeer het.

Rostron word boonop nie ’n salaris betaal vir die werk wat hy as nasionale afrigter doen nie.

Sheldon saam met sy vrou, Annelize, en klein Jordan.

“Ek doen dit maar vir die liefde van die saak,” sê hy. “Jy kan natuurlik vra hoekom ek nog nie weggestap het nie, want die druk is baie groot. Maar ek is ’n doener, ek sit nie terug en wag dat ander mense goed doen as ek dink ek kan dit self op ’n manier regkry nie. En hokkie is vir my baie spesiaal, ek is regtig lief daarvoor, ek wil hê die land moet suksesvol daarmee wees.

“Weet jy, by die Statebondspele (in April in Australië) was daar sewe Suid-Afrikaners wat internasionale spanne afgerig het. Sewe! Dit sê mos vir jou iets van die hokkietalent wat in die land gekweek word. Maar jy moet ook wonder hoekom soveel Suid-Afrikaners buite die land gaan afrig.

“Ek is maar die sucker wat bly,” sê hy met ’n ondeunde lig in die oë. “Maar ek wil dit doen, so ek gaan maar aan.”

Rostron is ’n Potchefstromer in murg en been – hy skerts dat sy Afrikaans baie beter móét wees as die gemiddelde Engelsman s’n – en het lief geraak vir hokkie by Potchefstroom Central Primary en Potchefstroom Boys’ High.

Hy was net 17 toe hy die meisies in Volkskool se eerste span begin afrig het en het nooit weer weggestap van afrigting nie.

Oor die jare het hy hom opgewerk tot direkteur van hokkie by die universiteit. Nou is hy bevorder tot direkteur van sport.

Dit hou hom op sy tone, sê hy.

“Ek ly aan slaaploosheid, maar in my geval is dit eerder ’n seëning as vloek, want dit gee my meer ure in my dag,” sê Rostron. “Hokkie neem seker so 70% van my tyd in beslag, so daarsonder sou ek nogal baie vrye tyd gehad het, maar ek kyk ook nie so daarna nie.”

Dit is merkwaardig dat Rostron nie net kop bo water hou nie, maar floreer.

Verlede Oktober, twee maande ná die onverwagse bedanking van Fabian Gregory as die mans-afrigter, moes Rostron verantwoordelikheid neem vir sowel die vroue as mans by die Afrika-kampioenskap.

Al was sy aandag verdeeld, is albei spanne as Afrika-kampioene gekroon. Maar hy het rondgehardloop om dit te laat gebeur.

“Ja, dit was maar moeilik,” sê hy. “Ek kon nie een van die twee spanne afskeep nie, so ek sou van ’n vergadering oor die een in ’n vergadering oor die ander ingaan, of net ná een span se wedstryd weer op die ander een konsentreer. Gelukkig het dit goed gegaan.”

Daardie balanseertoertjie het tot ’n einde gekom toe Mark Hopkins in Februarie die mans se nuwe afrigter geword het.

Oor die pad vorentoe vir Suid-Afrikaanse hokkie, wil Rostron nie swartgallig wees nie. Daar ís maniere om die sport vorentoe te neem sonder ’n bultende beursie, sê hy.

“Die dae waarin ons kon hoop daar kom ’n borg van iewers om ons sakke voller te maak, is nou verby. Ons kan dit nie wegpraat nie – groter sportsoorte as hokkie sukkel deesdae,” sê Rostron.

“Maar ons kan die span sentraliseer sonder dat dit die bank breek. Ons het verlede jaar voorgestel dat ’n groep topspelers in Johannesburg gebaseer word, en dat ons studente-spelers by ‘basiskampe’ by sekere universiteite setel. Dit sal vanselfsprekend minder kos as al jou elite-spelers op dieselfde plek is en gereeld saam kan oefen.

“Van al die lande in die top-15 op die wêreldranglys (Suid-Afrika is 14de) is ons die enigste wat nie óf professioneel óf gesentraliseer is nie. Onder die omstandighede vaar ons baie goed, maar ons sal iets moet verander.”

Die span se doelwit by die Wêreldbeker, wat op 21 Julie begin, is om in die top-10 te eindig.

“Ons weet dis ’n groot doelwit, maar dis belangrik om hoog te mik,” sê Rostron.

’n Lewe van opofferings

Wanneer Sheldon Rostron môreaand op die vliegtuig na Nederland klim, sal dit die begin wees van twee maande waarin hy nie sy seuntjie, Jordan, sal sien nie.

Jordan is 19 maande oud en sy pa vertel trots hy is reeds ’n ontluikende klein hokkiespeler.

“Hy het sy eie klein hokkiestokkie en beenskerms en ’n paar ander dinge. Hy wikkel nogal met daai stok.” 

“Dis nie lekker om van hom weg te gaan nie, want hy is ook op ’n ouderdom waar hy só vinnig ontwikkel. Toe ek by die huis gekom het ná die Statebondspele, was hy ’n heel ander outjie as voordat ek gegaan het, so ek weet dit gaan dié keer ook so wees. 

“Dis ongelukkig die opofferings wat van ons vereis word.”

Jordan sal boonop vir ’n rukkie in dié tyd by sy ouma-hulle moet bly, want sy ma, Annelize, gaan ook Wêreldbeker toe.

Annelize is ’n internasionale hokkieskeidsregter en een van twee Suid-Afrikaners wat die kantlyne in Londen gaan beman, saam met Michelle Joubert.

“Gewoonlik laat hulle ons nie toe om na dieselfde toernooie te gaan nie, maar dié keer het hulle ’n uitsondering gemaak,” sê Rostron.

Meer oor:  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.