Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Marquez en Binder nou kop aan kop
Wat ook al gebeur, Brad Binder se eerste jaar in die MotoGP-klas het reeds van hom ’n held gemaak. Maar in dié stadium sal hy moet uithaal om as die Groentjie van die Jaar gekroon te word. Foto: Getty Images

Daar is vanjaar nog net vier MotoGP-renne oor en die vlam van hoop wat vroeg in die seisoen onverwags en kortstondig aan die brand gesteek is – dat Brad Binder om die wêreldkampioenskap kan meeding – het verdof.

Die Suid-Afrikaner het tans 67 punte en is 11de op die puntelys. Die prys waarop ons wel nou kan begin fokus, is die trofee vir Groentjie van die Jaar.

Hy en Alex Marquez (Repsol Honda) het tans ewe veel punte. Binder staan egter vanweë sy oorwinning in die Tsjeggiese Grand Prix een plek bokant die Spanjaard op die rang­lys.

Maar laat ons nie vergeet hoe groot Binder (Red Bull KTM) se prestasie reeds vanjaar is nie.

Die amptelike MotoGP-webwerf wys daarop hy is slegs die vierde jaer wat dit sedert die aanvang van die era met vierslag-enjins regkry om in sy debuutjaar ’n GP te wen.

Die ander drie is die Spaanse drietal Marc Marquez, Jorge Lorenzo en Dani Pedrosa. Dit is glad nie slegte geselskap om jou in te bevind nie.

Binder se Achilleshiel is steeds kwalifisering. Hy kon dit sedert sy oorwinning nog net twee keer regkry om in die toptien te kwalifiseer. In al vyf ander renne het hy deel van die agterkwart op die wegspringrooster uitgemaak.

Hy het wel sesde aangetree op San Marino in Italië, maar het ongelukkig geval.

Dit het daartoe gelei dat hy in die vorige vyf renne net 18 punte in sy spaarbussie kon sit.

Daarteenoor het jong Marquez in dieselfde tyd 52 kampioenskapspunte gebank.

As daar nou ooit ’n voorbeeld is van “aanhouer wen”, dan is dit Alex Marquez, kleinboet van die huidige (en beseerde) wêreldkampioen.

’n Mens vergeet so maklik dat hy wel verlede jaar se Moto2-kampioen was, hoewel daardie feit nie sommer van jou ’n kampioen in die topklas maak nie. Ek het self kop geskud oor sy aanwysing as tweede Repsol-jaer.

Hy het aanvanklik vanjaar erg gesukkel om aan die groot Honda gewoond te raak. Toegegee, selfs die ingenieur wat hom ontwerp het, sê die RC213V is ’n ander storie, maar as jy hom kan baasraak, kan hy van jou ’n kampioen maak. (Nommer 93 het dit al bewys.)

Brad Binder

Die Honda-span se tegnici werk egter die hele seisoen onverpoos om die fiets te verbeter, terwyl Alex Marquez geduldig sy huiswerk doen. En daarop gefokus het om nie te val nie.

Hy is self nie lief vir kwalifiseringsessies nie, maar het op Sondae sy kant gebring en nog elke ren klaargemaak. In net twee het hy geen punte aangeteken nie, skryf MotoGP.com. En toe gebeur die Miracle de Le Mans.

Die jonge Marquez was een van die min jaers wat behoorlike bandgreep beleef het op ’n sopnat baan in Frankryk.

Boonop het hy tydens sy Moto2-loopbaan gewys hy skrik nie vir nat teer nie.

Hy het by van die groot name verbygeseil en tweede op die podium geëindig.

“The penny dropped”, soos die Engelse sê. Sy nuutgevonde selfvertroue en ’n fiets wat loop soos ’n July-wenner het hom verlede naweek in die Spaanse MotoGP op Aragón wéér tweede laat eindig.

Die derde groentjie wat vanjaar deelneem, is Iker Lecuona (Tech3 KTM). Hy sukkel wel nog om sy voete én sy sit te vind en kon dit in vier uit die tien renne nie regkry om klaar te maak nie omdat hy geval het. Hy het tans 20 punte en is 19de op die puntelys.

Binder sal vandag in die Grand Prix van Teruel, weer op Aragón, moet uithaal om te verseker Marquez skep nie weer dieper as hy wanneer hulle by die puntedam uitkom nie.

Hy spring in die 15de plek op die vyfde ry van die rooster weg, vyf plekke agter die Spanjaard. Maar dit klink erger as wat dit is. Marquez is wel op die vierde ry fietse, dus net voor Binder, en as die groen vlag eers swaai, kan enigiets gebeur. Soos die Wes-Rander ons nou al gewys het.

Daar was gister ’n kwartsekonde verskil in hul kwalifiseringstye, maar Marquez het baie beter tydens die oefensessies Vrydag en gister gevaar.

Stryd van die MotoGP-melkbaarde

Die Suid-Afrikaanse MotoGP-sensasie, Brad Binder, en Alex Marquez, broer van wêreldkampioen Marc, is in ’n kop-aan-kop-stryd gewikkel om die seisoen as die voorste groentjie-jaer af te sluit. 

Alex Marquez (Honda, Spanje) 67

Brad Binder (KTM, Suid-Afrika) 67

Iker Lecuona (KTM, Spanje) 20

Wat die res van die kampioenskap betref: Ons het al agt verskillende wenners in die eerste tien renne beleef en die voorloper kan vandag maklik wéér verander.

Joan Mir (Suzuki) het met 121 die meeste punte, al het hy nog geen ren gewen nie. Hy is beloon vir sy konstante gekuier op die podium met sy drie tweede plekke en twee derde plekke.

Maar vandag spring hy in die 12de plek weg, terwyl Fabio Quartararo (Petronas Yamaha) met sy 115 punte in die sesde plek wegspring en Maverick Viñales (Monster Yamaha, 109 punte) in die vierde plek.

Die voorste ry van die wegspringrooster is al weer ’n allegaartjie van vreemde gesigte.

Taka Nakagami het dit gister reggekry om vir die eerste keer vanjaar ’n Honda op die voorste plek te parkeer.

Boonop is dit nie een van die Repsol-fabriekspan se fietse nie, maar ’n 2019-motorfiets wat die LCR-span gebruik.

Dit is die eerste keer in 16 jaar dat ’n Japanse jaer dit regkry.

Langs hom is verlede naweek se wenner op dieselfde baan, Alex Rins (Suzuki), en Franco Morbidelli (Petronas Yamaha).

Die Ducati’s sukkel weer eens, met Johann Zarco (Esponsorama Ducati) in die vyfde plek as die voorste verteenwoordiger van dié ikoniese Italiaanse fietse.

Wat die ander drie KTM’s betref, benewens Binder: Hulle is in die agtste, negende en 11de plekke (Miguel Oliveira, Pol Espargaro en Iker Lecuona).

Hulle kan, soos gereeld die afgelope tyd gebeur het, maklik om die voorste plekke meeding. Maar iets gee mens die idee dit gaan ’n stryd tussen die Yamaha’s en die Suzuki’s wees.

En baie gaan afhang van wie hul bande die beste benut.

  • Wegspring: 13:55, DStv 210.
Meer oor:  Alex Marquez  |  Motogp  |  Brad Binder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.