Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Maskermanne het SA gaande gehad

Wie is hy, hierdie groot, geheimsinnige, gemaskerde man? Hy is so sterk soos ’n bees, maar hy is tog ook so rats dat hy die stoeikryt na ’n lekker speelplek laat lyk.

’n Jong Tabu du Randt saam met die legendariese promotor Bull Hefer. Foto: Tabu du Randt

Toe die rofstoeier Danie Brits onlangs gesterf het, het Tabu du Randt weer sy plakboeke uitgehaal.

Du Randt (60) kan as ’n amateur rofstoei geskiedkundige beskou word. Hy het baie seldsame stoeifoto’s en kan die storie van ons land se gemaskerde stoeiers oproep sonder om dit eers iewers in ’n boek te gaan naslaan.

“Ek het as jong seun met die legendariese promotor oom Bull Hefer kennis gemaak en verskeie van die stoeiers ontmoet en met hulle gesels,” sê Du Randt.

Dit was daar in die laat 1970’s, vroeë 1980’s toe rofstoei nog ’n gewilde sportsoort in ons land was en mense in vervoering was oor stoeiers soos Jan Wilkens, Percy Hall en Tarzan Jacobs.

En natuurlik die gemaskerde manne soos Apollo, Vrystaat en Boerseun.

“Ek kom uit ’n arm agtergrond en ly al my lewe lank aan floutes, wat verhoed het dat ek kon werk,” sê Du Randt, wat al vir jare in ’n sentrum vir epilepsielyers in Springs woon.

“Toe ek destyds aan oom Bull voorgestel is, het hy hom oor my ontferm. Hy het altyd vir my kaartjies na die toernooie in die Wembley-stadion in Johannesburg gegee.”

’n Jong Tabu du Randt saam met Apollo en Jan Wilkens. Foto: Tabu du Randt
Boerseun word deur Bull Hefer ontmasker. Foto: Tabu du Randt
’n Bladsy vol Boerseun-foto’s uit Tabu du Randt se plakboek. Foto: Tabu du Randt
Frikkie Alberts het onder die naam Vrystaat gestoei. Foto: Tabu du Randt
Sammy Cohen en Danie Brits. Foto: Tabu du Randt
Die SA Tornado (Danie Brits). Foto: Tabu du Randt

Hefer, wat in 1985 dood is, het ook vir Du Randt skyfies en biltong gekoop wanneer hy hom by die toernooie opgemerk het.

Du Randt het ook foto’s by Hefer gekry, soos waar Boerseun in 1982 ontmasker is en almal kon sien hy is Jan Swarts.

“Voor hy ontmasker is, het Boerseun altyd met sy Volkswagen van die snelweg ingekom en daar agter die Wembley parkeer. Hy het dan reeds sy masker opgehad,” onthou Du Randt.

“Die een aand toe staan ek daar en ek sien sy masker se veter is los agter sy kop, toe maak ek dit vas. Toe stap daar ’n ou verby en toe hy die groot gemaskerde man sien, het hy net een vreeslike gil gegee en gehardloop dat hy klein word!”

Vir Du Randt was Apollo (Gert Snyman) die beste van die gemaskerde manne.

“Hy was nie net ’n goeie stoeier nie, hy was ook ’n baie nice ou. ’n Ernstige rugbesering het sy loopbaan kwaai beïnvloed,” sê Du Randt.

Oor Vrystaat (Frikkie Alberts) vertel hy ’n mooi storie. “Alberts se ma was eendag besig om wasgoed te was, toe klop gaste aan die voordeur. Toe hardloop sy eers uit om Alberts se stoeiklere (waarop die naam Vrystaat geborduur was) van die wasgoedlyn af te haal en weg te steek,” skater Du Randt.

Uit dié staaltjie is dit duidelik hoe ernstig mense daardie tyd was om die gemaskerde stoeiers se ware identiteit te bewaar.

Van die manne se stoeiloopbane as gemaskerde manne was glo maar kort, soos die Rooi Baron, wat in sy eerste geveg die een of ander besering opgedoen het en toe net verdwyn het.

Dan was daar Sammy Cohen, wat op sy dag ’n gedugte stoeier (en promotor) was, maar min mense onthou dalk dat hy ook op ’n tyd ’n masker gedra het.

“Hy was die Ster van Dawid,” sê Du Randt.

En Danie Brits?

“Hy was die SA Tornado,” sê Du Randt. “Ek wonder wie dit nog onthou.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.