Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Max baas op dramatiese dag in Italië
Vreugde is... om voor te bly en ongelukke te vermy. Max Verstappen vier sy oorwinning in die Emilia Romagna-Grand Prix Sondag op Imola.Foto: Getty Images

Ná ’n dag met meer drama as ’n volle Days of our Lives-seisoen het Red Bull se Max Verstappen Sondag sy eerste Formule Een-ren ooit op Italiaanse bodem gewen.

Dié jong Nederlander het in die opwindende – maar chaotiese – Emilia Romagna-Grand Prix op die Imola-baan in die derde plek weggespring.

Op ’n nat dag, waar verskeie motors van die baan gegly het en ’n rooi vlag later gewys is om die ren ’n ruk lank te onderbreek, het Verstappen sy kans aangegryp om die voortou te neem, dáár te bly en die geruite vlag eerste te sien.

Sy oorwinning – met 22 sekondes – krimp die voorsprong wat die sewemalige F1-kampioen Lewis Hamilton op die seisoen se puntelys het, na ’n enkele punt.

Boonop rig dit ’n ernstige waarskuwing aan dié Mercedes-jaer, wat nou deeglik bewus is hy gaan nie weer ’n maklike ren vorentoe hê nie.

Boonop rig dit ’n ernstige waarskuwing aan dié Mercedes-jaer, wat nou deeglik bewus is hy gaan nie weer ’n maklike ren vorentoe hê nie.

Hamilton, wat in die voorste wegspringposisie was, is sommer al in die eerste draai deur die Nederlander ingekatrol.

Maar dit was Sondag die minste van die Brit se probleme.

In sy dolle jaagtog om Verstappen te probeer inhaal, het sy Mercedes romdom die halfpadmerk die baan verlaat na ’n rare fout aan sy kant.

Hy het teen die skermmuur gebots en daar was skade aan die voorvlerk van die Mercedes.

Hamilton het ook gesukkel om die motor in tru-rat te kry om weer by die ren aan te sluit en toe hy uiteindelik kon voortjaag, was hy skielik in die negende posisie.

Die feit dat hy hierna sy pad kon oopveg om tweede te eindig, is ’n getuigskrif vir sy vermoë.

Die Brit het ook ’n waardevolle bonuspunt verdien deur die vinnigste rondte van die dag aan te teken.

Lewis Hamilton se Mercedes probeer kortpad vat om Max Verstappen se Red Bull te vang in Sondag se Emilia Romagna-Grand Prix op Imola in Italië.Foto: Reuters

Maar hy sal onrustig slaap, want Verstappen het bloed geruik en gaan hom gas gee vir die res van die seisoen.

Meer drama kon daar waarskynlik nie Sondag gewees het nie.

In die 34ste rondte was daar ’n massiewe ongeluk na kontak tussen Valtteri Bottas se Mercedes en George Russell se Williams.

Só erg was dit, dat jaers die rooi vlag gewys is en die ren is ’n tyd lank gestaak moes word sodat beamptes die wrakstukke op die baan kon opruim.

Albei jaers het ongeskonde daarvan afgekom, maar daar is ’n paar gekruide woorde en ’n middelvinger of twee verwissel toe die twee uit hul wrakke na veiligheid gelei is.

“Dit was nie maklik op die baan nie, veral aan die begin toe dit kwaai gereën het,” het Verstappen agterna gesê.

Daar lê nog ’n lang seisoen voor. Dis nou tyd om kalm te bly en te fokus.
Max Verstappen

“Ek dink ons het die situasie goed hanteer, gegewe die toestande en als wat op die baan aangegaan het. Daar lê nog ’n lang seisoen voor. Dis nou tyd om kalm te bly en te fokus.”

Lando Morris het die McLaren-span breed laat glimlag met sy derde plek. En dit was onderskeidelik vierde en vyfde vir Ferrari se Charles Leclerc en Carlos Sainz.

Die volgende aflewering van die Drama op Wiele is op 2 Mei in die Portugese Grand Prix. - Sportredaksie

Meer oor:  Max Verstappen  |  Lewis Hamilon  |  Italie  |  Brittanje  |  Nederland  |  Chaos.  |  Formule Een  |  Motorwedrenne  |  Grand Prix
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.