Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Max rek voorsprong oor Lewis
Max Verstappen bal die vuiste nadat hy Sondag die Franse Grand Prix met vernuftige jaagwerk en ’n slim strategie gewen het. Foto: Reuters

Die Nederlandse renjaer Max Verstappen het Sondag in die Franse Grand Prix sy voorsprong op die algehele puntelys van die Formule Een-wêreldkampioenskap gerek ná ’n verbluffende vertoning waarin hy Mercedes se Lewis Hamilton in die voorlaaste rondte verbygesteek het.

Dié oorwinning het te doen gehad met Verstappen se kanniedood-benadering op die Paul Ricard-baan in Le Castellet, maar dit was grotendeels te danke aan Red Bull se uitgeslape strategie wat uiteindelik Hamilton se ondergang bewerkstellig het.

Waar Mercedes vooraf besluit het een besoek aan die kuipe sal genoeg wees om Hamilton en Valtteri Bottas se motors deur die wedren help, het Red Bull op twee kuipe-besoeke besluit.

Lewis Hamilton Foto: Reuters

Dis dié nuwe stel bande, terwyl Hamilton s’n erg gehawend was, wat die Nederlander oor die laaste drie rondes sy teenstander laat inkatrol het.

Hamilton verdien krediet dat hy so lank op die gehawende Pirelli's voor kon bly, maar dit was net ’n kwessie van tyd.

Verstappen het die gaping met groot dissipline en geduld verklein, soos ’n kat wat sy prooi bekruip.

En toe die geleentheid in die voorlaaste rondte kom, het hy op die hulpelose Hamilton toegesak, uit sy glystroom gewip en verby hom geflits om die geruite vlag ’n rondte later eerste te sien wapper.

Mercedes se eenstop-strategie het ook Bottas duur te staan gekom, wat gedurende die ren sy ontevredenheid met dié besluit in geen onduidelike terme aan die span in die kuipe oorgedra het nie.

“Ek het julle gef***** sê dis ’n tweestop-wedren. Ek het geen greep op my bande nie,” het hy oor sy aanboord-mikrofoon geswets.

Ek het julle gef***** sê dis ’n tweestop-wedren. Ek het geen greep op my bande nie.
Valtteri Bottas

Hy is kort daarna deur die Mexikaan Sergio Pérez, wat twee week gelede die Baku-Grand Prix in Azerbeidjan gewen het, verbygesteek om sy podiumplek kwyt te wees. Bottas het vierde geëindig

Dit het uiteindelik aan Red Bull ’n 1ste en 3de plek besorg.

Verstappen het ná dese 215 punte agter sy naam aan die bopunt van die puntelys teenoor Hamilton se 178 punte.

Max Verstappen van Red Bull jaag oor die eindstreep met sy ondersteuningspan wat hom toejuig. Foto: Reuters

“Dit was ’n baie moeilike ren, veral aan die begin, toe die wind erg gewaai het. Dit was ’n uitdaging om die motor te beheer en dis waar Lewis my gevang het,” het Verstappen agterna gesê.

Hy het verwys na die dramatiese eerste draai, toe hy nie sy eerste wegspringposisie kon uitbuit nie. Hy het die baan vir ’n breukdeel van ’n sekonde verlaat, wat aan die Brit kans gegee het om die voortou te neem.

Die bande-strategie was egter die groot gelykmaker later.

“Ja, dit het goed vir ons uitgewerk. Ek moes (ná die tweede besoek aan die kuipe) ’n paar van die agterjaers verbysteek om by Lewis uit te kom, maar ek het geweet sy bande gaan nie meer soveel greep in die draaie hê nie.”

Hy het ook gesê dié ren voorspel wat vir die res van die Formule Een-seisoen gaan volg.

“Ons (Red Bull en Mercedes) gaan mekaar opdreun, dis gewis. Ek is gereed vir die geveg,” aldus Verstappen.

Hamilton was heel filosofies ná sy ondergang op die voorlaaste rondte.

“Die bande wou nie meer saamwerk nie – veral voor het ek beperkte greep gehad.

Ek dink ons het die ren hier verloor – by die plekke waar ek kon vet gee, was dit asof die motor nie behoorlik gereageer het nie.
Lewis Hamilton

“Ons sal ook moet gaan kyk hoekom die spoed nie vandag was soos dit moet wees nie. Ek dink ons het die ren hier verloor – by die plekke waar ek kon vet gee, was dit asof die motor nie behoorlik gereageer het nie,” het Hamilton gesê.

En sy gevoel oor die eenstop-strategie?

“Dit was van die begin af Red Bull se plan. As ek laat in die ren skielik opdrag gekry het om ’n tweede keer kuipe toe te gaan, sou ek te ver agter Max gewees het om hom te vang, selfs met nuwe bande. So alle krediet aan Red Bull en Max, dis ’n welverdiende sege.” – Sportredaksie

* Berig aangepas.

Meer oor:  Max Verstappen  |  Lewis Hamilon  |  Valtteri Bottas  |  Frankryk  |  Nederland  |  Brittanje  |  Mercedes  |  Formule Een  |  Motorsport  |  Grand Prix  |  Red Bull
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.