Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Meintjes, ‘Aussie’ gaan vir SA fietsry
Louis Meintjes in aksie in ’n tydtoets tydens die Tour de France in 2017. Foto: Getty Images

Dit was jare gelede by die Wêreldkampioenskappe dat Louis Meintjes die fietsrywêreld van hom laat kennis neem het en volgende week keer hy terug na dié jagveld.

Dié 28-jarige boorling van Pretoria is een van vier Suid-Afrikaners wat hul staal in die Wêreld-padfietskampioenskappe in Imola, Italië, gaan wys.

Nicholas Dlamini (25) en Meintjes, wat albei vir die plaaslike NTT-span ry, sal aanstaande Sondag aan die padwedren oor 259,2 km deelneem.

Kerry Jonker (regs) neem vanjaar aan die Wêreldkampioenskappe deel. Foto: Verskaf

Ashleigh Moolman-Pasio (34) en Kerry Jonker (24) sal aanstaande Saterdag vir die padwedren oor 144 km aantree. Laasgenoemde sal ook Donderdag aan die tydtoets deelneem.

Dit sal die eerste keer sedert 2014 (toe het hy aan die o.23-wedren deelgeneem) wees dat Meintjes aan die Wêreldkampioenskappe deelneem. In 2013 was sy naam op almal se lippe toe hy tweede in die o.23-padwedren in die einste Italië geëindig het.

Meintjes, ’n klimmer, het vroeër die week algeheel 12de klaargemaak in die Tirreno-Adriatico – wat ’n aanduiding is dat sy peil goed is.

“Dit behoort ’n moeilike roete te wees, maar my bene het goed gevoel met die Tirreno. Hopelik beleef ons ’n goeie dag daar. Dit sal my eerste Wereldkampioenskap vir elite-ryers wees, so ek sien daarna uit en ek hoop op die beste,” sê Meintjes.

Die Sloween Primož Roglic, tans die voorloper in die Tour de France, en sy landgenoot Tadej Pogacar, wat tweede is, is, se name verskyn ook op die lys. Die Brit Geraint Thomas, wat die Tour in 2018 gewen het, gaan net aan die tydtoets deelneem.

Die effens onbekende Jonker is ’n boorling van Kaapstad, wat burgerskap van Suid-Afrika en Australië het. Sy was vroeër vanjaar sesde in die tydtoets by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe. In 2018 was sy derde in die o.23-tydtoets by die Australiese kampioenskappe.

“Ek is baie opgewonde oor my eerste Wêreldkampioenskap. Ek was op my senuwees om te gaan, aangesien ek nie seker was dat ek van enige waarde vir Ashleigh (wat in 2019 agtste was) sal wees nie,” sê Jonker.

Annemiek van Vleuten gaan nie vanjaar haar titel in die padwedren verdedig nie. Foto: Getty Images

“Sy (Moolman-Pasio) het my egter aangemoedig om deel te neem en ervaring op te doen vir die toekoms. Ook, daar is nie baie mense wat kan sê dat hulle hul land in die elite-afdeling by die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms verteenwoordig het nie.

“So dit is ’n geleentheid, wat ek geëerd voel om te aanvaar. Ek dink my doelwit in die padwedren is om te doen wat ek ook al kan om Ashleigh te ondersteun en ervaring op te doen.

“Ek is baie opgewonde oor die tydtoets en hoop dat ek Suid-Afrika kan trots maak as die land se enigste verteenwoordiger in die item,” sê Jonker.

Die Nederlander Annemiek van Vleuten sal nie haar titel in die padwedren verdedig nie nadat sy haar polsgewrig gebreek het tydens ’n valslag in die Giro Rosa, wat tans aan die gang is, berig Reuters.

Die 37-jarige Nederlander is ook die Europese padkampioen en was die algehele voorloper in die Giro Rosa wat Saterdag eindig.

Meer oor:  Ashleigh Moolman-Pasio  |  Louis Meintjes  |  Suid-Afrika  |  Imola  |  Italië  |  Ntt-Span  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.