Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Louis Meintjes mis Tour de France
Suid-Afrika se Louis Meintjes in aksie tydens ’n eendagwedren in 2019. Foto: Getty Images

Wanneer die Suid-Afrikaanse fietsryer Louis Meintjes nou na heruitsendings van sy sogenaamde goue jare op televisie kyk, voel dit steeds onwerklik.

Meintjes, ’n klimmer wat vir die plaaslike NTT-span ry, was ’n paar jaar gelede Suid-Afrika se hoop op die podium by die Tour de France. Hy het immers in 2016 en 2017 algeheel agtste klaargemaak.

In 2018 toe hy hom by Dimension Data (soos NTT tevore bekend gestaan het) aangesluit het, is besluit dat hy die Tour gaan misloop om eerder aan die Vuelta a España en die Giro d’Italia deel te neem.

Destyds is gesê dat die plan is dat Meintjes in 2020 ’n algehele podiumplek in die Tour sal losry.

Maar ’n string beserings het hom sedertdien effens bloots gery. Tog is Meintjes op 28-jarige ouderdom ver van oor die muur.

Daardie twee toptienplekke voel regtig soos baie lank gelede. Dit voel steeds onwerklik as ek daardie hoogtepunte op televisie sien.
Louis Meintjes

“Daardie twee toptienplekke voel regtig soos baie lank gelede. Dit voel steeds onwerklik as ek daardie hoogtepunte op televisie sien.

“Dan besef ek hoeveel werk, werk en werk dit verg om by die punt te kom waar alles reg verloop. Waar jy letterlik vlieg en een van die wêreld se voorste fietsryers is.

“Jy voel trots en gelukkig, maar jy besef ook dat dit baie dinge is wat reg verloop, baie ondersteuning om dit te bereik. Dit is iets goed om te onthou, iets om na te streef. Ek weet as ek alles reg doen, sal die beloning daar wees.

Louis Meintjes tydens die 18de skof, ’n individuele tydtoets, van die Tour de France in 2016. Foto: Getty Images

“Dit is altyd in my gedagtes en motiveer my om weer daardie vlak te bereik,” sê Meintjes in ’n verklaring van NTT.

Die Pretorianer van geboorte, wat deesdae in Andorra, in Europa woon, het in 2019 weer vir die Vuelta aangetree. Hy het ’n beskeie 51ste geëindig. Vroeg in 2020 het hy 11de klaargemaak in die Tour de Langkawi in Maleisië.

“Die seisoen het ’n bietjie stadig begin en ek was nie op die peil waarin ek wou wees in Langkwai en Haut Var (Tour des Alpes-Maritimes et du Var, waar hy 36ste was) direk daarna nie.

“Ongelukkig was ek in die eerste twee renne nie heeltemal skerp nie, so ek kon die seisoen beter begin het. In die algemeen het ek gevoel dit kan lei tot ’n beter seisoen,” sê Meintjes.

Daar is tans onsekerheid of die Tour de France, wat op 27 Junie moet begin, weens die Covid-19-pandemie sal voortgaan.

“Die laaste paar jaar het ek regtig die Tour gemis. Dit is die grootste byeenkoms in fietsry, as jy eers daar was, en voor was, vergelyk jy alles daarmee.

Ek mis dit regtig en dit sal wonderlik wees om vanjaar daar te wees, hoewel daar onsekerheid is of dit voortgaan.
Louis Meintjes

“Ek mis dit regtig en dit sal wonderlik wees om vanjaar daar te wees, hoewel daar onsekerheid is of dit voortgaan.

“Ek is nie seker of dit dieselfde gaan wees met al die dinge wat tans aangaan nie, aangesien daar belangriker dinge is om oor bekommerd te wees. Maar ek sal regtig daarvan hou om weer eendag in die Tour in aksie te wees,” sê Meintjes.

*Hoogtepunte van 2017 se Tour de France:

 
Meer oor:  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Tour De France  |  Fietsry  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.