Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Meintjes ná 4 j. terug; De Bod maak debuut

Die Suid-Afrikaanse fietsryer Louis Meintjes sal Saterdag vir die eerste keer sedert 2017 weer vir die prestigeryke Tour de France aantree.

Louis Meintjes in aksie tydens ’n wedren in 2019 toe hy vir die plaaslike span Dimension Data, deesdae bekend as Qhubeka Assos, gery het. Foto: Getty Images

Meintjes (29) se naam is uitgelees toe sy span, Intermarché-Wanty-Gobert (IWG), sy agt ryers aangekondig het vir dié wedren, wat in die Franse kusdorp Brest begin.

Luidens ’n verklaring van IWG rus dié span se ambisies in die algehele kompetisie op die skouers van Meintjes, wat in Pretoria gebore is.

’n Paar jaar gelede was Meintjes, ’n klimmer, beskou as ’n ryer wat glorie vir Suid-Afrika kan bring deur op die podium te staan ná afloop van die laaste skof in die Tour.

Hy het in 2015 in die kleure van die plaaslike MTN-Qhubeka (deesdae bekend as Qhubeka Assos) die eerste keer aan die Tour deelgeneem, maar nie klaargemaak nie.

In 2016 en 2017 was hy op die boeke van Lampre-Merida (deesdae bekend as UAE Team Emirates). Albei daardie jare het hy algeheel agtste in die Tour geëindig, voordat hy in 2018 na die plaaslike span teruggekeer het.

Louis Meintjes sal vanjaar die eerste keer sedert 2017 weer aan die Tour de France deelneem. Foto: Getty Images

Destyds was die plan dat hy in 2018 op die Giro d’Italia en Vuelta a España fokus as voorbereiding vir ’n aanslag op die Tour in 2019. Meintjes het egter die afgelope paar jaar op kritieke tye las van beserings en siekte gehad, terwyl sy peil ook nie altyd watwonders was nie.

Sedert hy vanjaar by Intermarché-Wanty-Gobert aangesluit het, is daar weer tekens dat hy sy ou self is. Hy het vanjaar 17de in die Critérium du Dauphiné, 20ste in die Tour de Romandie, 23ste in Paris-Nice en 18de in UAE Tour geëindig.

Stefan de Bod sal vanjaar sy buiging in die Tour de France maak. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaner Stefan de Bod maak vanjaar sy buiging in die Tour. Dié 24-jarige boorling van Worcester ry vanjaar vir Astana-Premier Tech.

“Ek is dankbaar vir die geleentheid om my debuut in die Tour de France in ’n sterk en ervare span te maak en sal alles in my vermoë doen om hulle te vergoed vir die vertroue wat in my gestel is,” sê De Bod in sy span se verklaring.

“Hierdie wedren is elke fietsryer se droom en ek sal elke dag se ry geniet, selfs al is daar oomblikke wat moeilik is.”

• In nog Tour-nuus is die Britse naelryer Mark Cavendish in Deceuninck-Quick Step se span vir die skouspel ingesluit, berig Reuters.

Cavendish (36), wat met 30 skofseges in die Tour spog, is gekies in die plek van die Ier Sam Bennett, wat las van ’n kniebesering het. Bennett het in 2020 die punteafdeling in die Tour gewen.

Meer oor:  Tour De France  |  Fietsry  |  Louis Meintjes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.