Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Meintjes se ‘Tour de Frustrasie’

Dit was vir die Suid-Afrikaanse fietsryer Louis Meintjes moeilik om verlede maand die Tour de France op televisie te volg – juis omdat hy ook daar wou wees.

Dié 27-jarige boorling van Pretoria het die Tour weens ’n besering misgeloop en erken dit was “frustrerend”, om die minste te sê.

Louis Meintjes tydens 2018 se Vuelta a España. Foto: Getty Images

“Dit was nogal ’n moeilike jaar, ek het net aan die gang gekom toe is ek in ’n ongeluk. So dit was nogal frustrerend.

“Dit was letterlik ’n geval van baie oefen, net om kort daarna weer van voor af te moes begin,” het Meintjes, wat vir die Dimension Data-span ry, Woensdag uit Spanje gesê.

Hy het sy polsgewrig in Mei gebreek tydens die Kaliforniese Toer en kon vir twee maande nie aan mededingende fietsry deelneem nie. Dit het beteken dat hy die Tour, waar hy in 2016 en 2017 beide kere agtste was, misgeloop het.

Die Tour is altyd spesiaal en ek wil definitief weer my staal daarin wys. Maar dit is moeilik om te voorspel wanneer ek weer ’n kans sal kry.

Ná daardie blink vertonings is destyds voorspel dat Meintjes, ’n goeie klimmer, binne die bestek van ’n jaar of twee op die Tour se podium sal eindig. Maar die noodlot het anders besluit.

In 2018 het hy die Tour misloop om eerder op die Vuelta a España en die Giro d’Italia te fokus – in ’n poging vir ’n groot aanslag op 2019 se Tour.

Louis Meintjes neem sy toevlug tot die berge as die lewe druk. Foto: Gallo Images

Siekte het egter veroorsaak dat Meintjes nie die Giro kon voltooi nie, terwyl hy later die seisoen met sy peil gesukkel het.

Jy kan dus vir Meintjes, wat sy toevlug na die berge neem as die lewe druk, bittermin van frustrasie vertel.

“Ek is maar ’n alleenmens en gaan op in die berge om te oefen en rus te kry.”

Hy antwoord droogweg op die vraag hoe dit gevoel het toe sy landgenoot Daryl Impey die negende skof van vanjaar se Tour gewen het. “ ’n Mens kry maar fomo (fear of missing out).

“Die Tour is altyd spesiaal en ek wil definitief weer my staal daarin wys. Maar dit is moeilik om te voorspel wanneer ek weer ’n kans sal kry.

“Dit verg baie werk en jy moet mense omtrent herinner dat jy steeds daar is,” het Meintjes gesê.

Nie dat hy nie gerat is vir die uitdaging van opstaan en weer probeer nie. Hy vertel juis dat dit “die uitdaging” was wat hom jare gelede versot gemaak het op fietsry.

Hy kry van Saterdag af die geleentheid om die fietsrywêreld van sy bestaan te herinner en hom teen die wêreld se voorste ryers te meet wanneer die Vuelta, wat oor 21 skofte beslis word, begin.

Hy het goeie herinneringe aan Spanje, waar hy in 2015 10de en in 2017 12de was.

Hoewel hy nog nie weet watter rol hy in die Vuelta vir sy span gaan vertolk nie, is dit vir hom belangriker dat hy ongeskonde daar kan deurkom.

“Ons moet nog vergader om ons taktiek te bespreek en te sien wie wat doen. Dit sal alles afhang van hoe dinge in die eerste week verloop en hoe my bene voel.

“As ek goed voel en ek kan in die voorste groep klaarmaak, sal dit goed wees,” het Meintjes gesê.

Meer oor:  Dimension Data  |  Tour De France  |  Fietsry  |  Louis Meintjes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.