Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Meintjes slyp in Clarens vir Tour de France

Nadat daar in 2017 voorspel is dat Louis Meintjes Suid-Afrika se groot hoop op ’n podiumplek by die Tour de France is, het hy die afgelope jaar so effens onder die radar beweeg.

Louis Meintjes sê elke fietsryer met potensiaal wil die Tour de France wen. Foto: Getty Images

Dié 26-jarige boorling van Pretoria, wat deesdae vir die Dimension Data-span ry nadat hy tot in 2017 in die UAE Team Emirates se kraal was, het egter die afgelope week bevestig sy groot fokus vanjaar is op die Tour.

“Ek volg ’n voorlopige oefenprogram as voorbereiding vir die Tour de France. Vir enige span is dit die belangrikste wedren van die jaar.

“In die verlede het ek goed daar gevaar en ek sien daarna uit om deel te neem, nadat ek nie verlede jaar in aksie was nie,” sê Meintjes.

Ná sy sukses in die Tour in 2016 en 2017, toe hy elke keer algeheel agtste geëindig het, het hy in 2018 dié Tour misgeloop om eerder op die Giro d’Italia en die Vuelta a España te fokus.

Louis Meintjes se fokus vir 2019 is die Tour de France. Foto: Getty Images

Hy moes hom egter weens siekte aan die Giro onttrek en het ook nie watwonders in die Vuelta vertoon nie.

“Dit is altyd teleurstellend wanneer jy nie ’n vername fietstoer soos die Giro voltooi nie. Ek het saam met die mediese span besluit om my te onttrek omdat die Giro so ’n groot tol op jou lyf eis,” sê Meintjes.

Die fietsryer, wat bekend is as ’n goeie klimmer, berei tans in Clarens in die Vrystaat voor vir die nuwe seisoen.

“Ek geniet die paaie hier, omdat dit vir ’n klimmer soos ek goeie voorbereiding is. Ek probeer om elke jaar hierheen te kom. Die weer hier is goed en ek het ook goeie oefenmaats,” sê Meintjes.

Gevra of hy nie swaar dra aan die juk van verwagting wat in die media geskep is om ’n podiumplek in die Tour vir Suid-Afrika te verseker nie, sê hy hy dink nie baie daaraan nie.

“Die Tour de France is die grootste fietstoer ter wêreld en elke ryer met potensiaal wil dit wen. Om dit egter te wen, het jy ’n paar dinge nodig wat reg vir jou moet verloop,” sê Meintjes.

Hy sal aanstaande maand aan die Suid-Afrikaanse padfietskampioenskappe in Pretoria deelneem. Hy het die padfietstitel in 2014 verower.

Meer oor:  Vrystaat  |  Clarens  |  Fietsry  |  Louis Meintjes  |  Tour De France  |  Dimension Data
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.