Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Merc-mengbak steeds voller as Ferrari s’n

Om die arme skrummasjien tydens ’n rugbyoefening pak te gee, beteken nie jy gaan dit tydens die wedstryd regkry nie.

Dit het die Ferrari-span vanjaar agtergekom, want 2019 verloop nie soos beplan nie.

Hul rooi renmotors is beslis die vinnigste. Hulle het dit reeds bewys tydens voorseisoen-toetsing en kwalifisering vir die eerste twee Grands Prix. Nogtans kon hulle nog nie ’n enkele ren wen nie.

Boonop spring Valtteri Bottas (Mercedes) vandag weer eerste weg in die Azerbeidjanse Grand Prix, met Lewis Hamilton langs hom, gevolg deur Sebastian Vettel (Ferrari).

Bottas en Hamilton, die verdedigende kampioen, het reeds die eerste span in 27 jaar geword wat agtereenvolgens in die eerste drie renne van die jaar op die boonste twee plekke van die wennerspodium kon staan.

Aberbeldjanse Grand Prix
Aberbeldjanse Grand Prix

Bottas het in Australië geseëvier en Hamilton in Bahrein en China – boonop sonder om eers ’n draai by Fruit & Veg City te maak.

Red Bull se spanbestuurder, Christian Horner, het onlangs gesê hy vermoed dit is die Ferrari’s se Shell-renbrandstof wat hulle so vinnig maak. Hy het behoorlik die tonge losgemaak toe hy sê dié petrol ruik dan soos pomelo’s.

Wat Ferrari ook al doen, dit was tot dusver verniet – Mercedes-Benz is reeds met 57 punte voor in die vervaardigerskam- pioenskap.

Dit alles wys mens nou maar net weer – om suksesvol te wees op hierdie vlak, moet jy talent, ’n mededingende motor en ’n bietjie geluk hê. Net een van daardie bestanddele gaan nie van jou ’n kampioen maak nie.

Hoe meer jy van almal het, hoe groter is jou kans.

En in hierdie stadium lyk dit of Mercedes-Benz die span is met die meeste bestanddele in sy mengbak.

Ferrari se ingenieurs beraam deurgaans planne om hul oefenvoorsprong ook tydens die ren te laat geld.

Hulle het reeds in China die vloerplan van hul motors verander in ’n poging om die sleureffek te verminder en gevolglik die hantering te verbeter. Dit is die Mercs se beter hantering wat nog elke keer die Ferrari’s se topspoed uitkanselleer.

Ferrari sukkel ook meer as Mercedes met hitte wat op verkeerde plekke in sy bande opbou, wat hul greep en uithouvermoë beïnvloed.

Terwyl Mercedes-Benz deurgaans aan sy motors bly ontwikkel, het Ferrari sy groot veranderinge gebêre tot voor die vierde ren – vandag in Azerbeidjan.

Mattia Binotto, Ferrari se nuwe spanbaas, wil nie sê wat hulle gedoen het nie.

“Hierdie GP is baie belangrik vir ons nadat die drie eerste renne nie afgeloop het soos ons wou gehad het nie,” het Binotto in die week gesê.

“Ons is baie goed voorbereid en het al die data geanaliseer wat ons tot nou opgebou het. Ons moet die motor beter volgens die baan se vereistes instel.”

Die jongste veranderinge val dalk net in Vettel en Charles Leclerc se kraal.

Veral dié jongeling lyk bitter naby aan sy eerste GP-oorwinning.

Hy het in die week beweer hy raak wel nie haastig nie en sal geduldig vir daardie deurbraak wag. Maar hy het gister in kwalifisering ’n ongeluk gemaak en spring negende weg.

Nog iemand wat gereed staan om die wennerspodium te bestyg, is Max Verstappen van Red Bull.

Die span het hoeka ’n nuwe, kragtiger enjin gereed vir vandag se ren.

Die Baku-baan in Azerbeidjan is vinnig, maar het ’n baie kronkelagtige gedeelte waar dit tussen geboue deurloop.

Dit is ’n renbaan wat baie van ’n motor vereis.

Meer oor:  Mercedes-Benz  |  Ferrari
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.