Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Mercedes-baas ‘soos zombie’ ná Lauda sterf

Toto Wolff, grootbaas van Mercedes se Formule Een-span, sê die afsterwe van die driemalige wêreldkampioen Niki Lauda het F1 van sy hart en siel gestroop en laat hom soos ’n zombie voel, wat nie sy emosies kan beheer nie.

Toto Wolff (links) het Donderdag in Monaco hulde gebring aan Niki Lauda (regs), wat vandeesweek in die ouderdom van 70 jaar dood is. Foto: Getty Images

Hy het Donderdag in die opbou tot Sondag se Grand Prix in Monaco hulde gebring aan sy mede-Oostenryker.

“Dit is baie moeilik, soos julle kan dink. Dit is baie moeilik vir die span, vir almal van ons en veral vir diegene wat hom as ’n vriend verloor het.

“Dit is ’n uitdaging om op die wedren te fokus, veral hier in Monaco met die groot mediabelangstelling om ons.

“Ek probeer hard om myself emosioneel bymekaar te hou,” het Wolff aan verslaggewers gesê.

Lauda, een van die heel grotes in die geskiedenis van F1 en Mercedes se nie-uitvoerende voorsitter en aandeelhouer, is Maandag in die ouderdom van 70 jaar in Zürich dood.

Wolff sê die sport is gestroop van sy “grootste ikoon” en hy het ’n dierbare vriend verloor.

“Dit is so moeilik om oor hom te praat. Niki, die ikoon van Formule Een. Ek dink hy was die grootste ikoon wat ons gehad het.

Niki Lauda en die vyfmalige wêreldkampioen Lewis Hamilton het ’n hegte band gehad. Foto: Getty Images

“Ek word oorweldig deur my emosies. Die laaste 48 uur was baie sleg en ek voel soos ’n zombie.

“Ek is elke halfuur in trane, want hy is nie meer met ons nie.”

Mercedes se vyfmalige wêreldkampioen Lewis Hamilton is Woensdag van sy mediaverpligtinge verskoon en Wolff sê dié Brit het ’n spesiale band met Lauda gehad.

Lauda het ook ’n sleutelrol in 2013 gespeel om Hamilton na Mercedes te lok.

“Daar hang ’n somber gevoel in die kamp en so ook vir Lewis en almal wat na aan hom was.

“Ons (Wolff en Hamilton) het die tyding op dieselfde tyd gekry en het kort daarna met mekaar gepraat.

“Almal sal op hul eie manier rou en hartseer wees, maar Niki sou wou hê dat ons op die wedren moet fokus en Saterdag en Sondag ons kant bring.”

Mercedes het in die eerste vyf wedrenne van die seisoen met ’n eerste en tweede plek gespog en Hamilton en sy spanmaat, Valtteri Bottas, sal Sondag weer moeilik gestuit word. – Reuters

* TV: Saterdag se kwalifiserende ronde: 14:55 op SS 5. Sondag se hoofren: 15:05: SS 1.

Meer oor:  F1  |  Valterri Bottas  |  Lewis Hamilton  |  Formule 1  |  Motorsport  |  Niki Lauda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.