Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Mercedes-strategie gee deurslag
Deurslaggewende oomblik: Lewis Hamiton se tweede besoek aan die kuipe vir vars bande, wat hom uiteindelik in ’n strategiese ren in die Spaanse Grand Prix die oorhand oor Max Verstappen van Red Bull gegee het.Foto: AP

Mercedes se briljante wedrenstrategie en ’n vernuftige Lewis Hamilton agter die stuur het Sondag aan dié jaer sy sesde oorwinning in die Spaanse Grand Prix in Barcelona besorg.

Dit was die Brit se vyfde sege agtereenvolgens in dié Grand Prix en sy 98ste loopbaansege.

Hamilton het voor die wedren geskiedenis gemaak deur die eerste Formule Een-jaer nog te word om vir die 100ste keer in die voorste wegspringposisie aan te tree nadat hy Saterdag die vinnigste kwalifiserende tyd opgestel het.

Dié voorsprong is egter sommer in die eerste draai ongedaan gemaak toe Red Bull se Max Verstappen in die nouste van gapings ’n aggressiewe aanval geloods het om verby die Mercedes te skiet en die vroeë voortou te neem.

Maar hierna het die ren in ’n kat-en-muis-speletjie ontwikkel, met die wedrenstrategieë vanuit die onderskeie spanne se kuipe wat uiteindelik net so deurslaggewend soos die bestuursvernuf van die renjaers in hul stuurkajuite was.

Die groot kwessie was die soort buitebande wat die renmotors op die breë baan met sy talle draaie sou gebruik.

Die meeste het met gladde bande weggespring, maar dit was net ’n kwessie van tyd voor dié deur die teer verniel sou word.

Spanne moes besluit of daar een of twee besoeke aan die kuipe gedurende die ren gaan wees. En belangriker selfs: wánneer die besoeke sou plaasvind.

Spanne moes besluit of daar een of twee besoeke aan die kuipe gedurende die ren gaan wees. En belangriker selfs: wánneer die besoeke sou plaasvind.

Valtteri Bottas, tien sekondes agter sy Mercedes-spanmaat en Verstappen, was in die 24ste rondte die eerste jaer in die top-vier wat ingeroep is om bande te ruil.

Red Bull se Max Verstappen sal Sondag in die tweede plek in Spanje wegspring. Foto: Getty Images

Verstappen se Red Bull is ná 25 rondtes ingeroep vir nuwe, mediumbande. Sy kuipespan het egter lelik kleigetrap. Hy was eers na 4,2 sekondes terug op die baan. So ’n besoek duur gewoonlik minder as 3 sekondes.

Mercedes se spanbaas, Toto Wolff, het die dobbelstene gerol en besluit Hamilton moet eers voortjaag met die gladde bande waarmee hy begin het.

Die sewemalige wêreldkampioen is eers ná 28 rondtes in vir mediumbande. Verstappen het sy voorsprong in die tyd gerek, maar die Brit se bande was vyf rondes varser as dié van die Belg.

Hy het dadelik begin om die gaping tussen hom en Verstappen weg te kalwe.

In die 35ste rondte het Mercedes egter die Red Bull-span onkant betrap deur Hamilton wéér kuipe toe te roep – vir nog ’n stel vars mediumbande.

Met sy terugkeer was hy ’n volle 23 sekondes agter Verstappen, met 23 rondtes oor in die ren.

Maar die Mercedes met nuwe bande was ’n ander storie.

Hamilton het met elke rondte ’n sekonde op die voorloper ingehaal nadat hy die boodskap gekry het dat hy Verstappen teen dié pas in die laaste rondte gaan inkatrol.

Sjampanje vir die kampioen. Lewis Hamilton ná sy oorwinning Sondag in die Spaanse Grand Prix in Barcelona.Foto: Getty Images

Dit het egter vroeër gebeur. Die Brit het sy grootste uitdager om die titel in die 60ste rondte verbygesteek, met die Red Bull wat met gehawende bande nie sy posisie kon verdedig nie.

Verstappen het ná ’n tweede besoek aan die kuipe hierna daarin geslaag om die vinnigste rondtetyd van die ren aan te teken, wat hom ’n bonuspunt besorg het.

Maar hy het steeds 15.841 sekondes ná Hamilton die geruite vlag gesien.

Bottas was derde oor die eindstreep en Charles Leclerc in sy Ferrari vierde. Hamilton het met die oorwinning sy voorsprong op die algehele puntelys na 14 voor Verstappen gerek.

Die volgende ren word op 23 Mei in Monte Carlo beslis.– TeamTalk; Sportredaksie

Meer oor:  Lewis Hamilton  |  Max Verstappen  |  Barcelona  |  Brittanje  |  Nederland  |  Mercedes  |  Formule Een  |  Motorsport  |  Spaanse Grand Prix
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.