Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Michael en Michelle verower titels

Die organiseerders van die Midmar-myl het toe wel Sondag hul tentjies op die oewers van die Midmar-dam opgeslaan en paramedici op bystand geplaas nadat toestemming verkry is om die ren vir elite-deelnemers daar toe te laat.

Michael McGlynn oomblikke nadat hy die eerste man in vyf jaar geword het wat sy Midmar-titel suksesvol kon verdedig. Foto: Verskaf

Dit het meegebring dat die Durbaniet Michael McGlynn die verdediging van sy 2020-titel in bekende waters kon loods – en ’n tweede agtereenvolgende jaar suksesvol was.

McGlynn het van begin tot einde die voortou geneem en die felste stryd op die dag was tussen Danie Marais en Connor Buck om die tweede plek.

McGlynn het die eindstreep ná 17 minute en 55 sekondes oorgesteek. Marais was tweede in 18:25 en die 18-jarige Buck derde in 18:31.

“Die druk was geweldig,” het McGlynn in ’n verklaring toegegee. “Dis baie anders om die tweede keer hierheen te kom en te probeer wen as wanneer jy geen titel en niks het om te verloor nie.

Hy het gesê God het hom krag gegee om voort te gaan en te wen.

Sedert Chad Ho se oorheersing van 2010 tot 2016 is McGlynn die eerste manlike elite-swemmer wat agtereenvolgende Midmar-titels wen.

“Ek weet daar was die laaste paar jare ’n droogte, in terme van ouens wat een titel wen en dit dan nie kan verdedig nie. Ek wou regtig wys ek kan ook my titel verdedig en ek is dankbaar vir almal se ondersteuning,” het die 21-jarige Durbaniet gesê.

Michelle Weber was in die wolke nadat sy die eerste keer sedert 2016 die vroue-kroon verower het. Foto: Verskaf

Ook in die vroue-ren is ’n vyf jaar lange droogte gebreek toe die Olimpiese swemmer Michelle Weber vir die eerste keer sedert 2016 as kampioen gekroon is.

Soos McGlynn was Weber deurgaans die voorloper. Sy het uiteindelik ’n wentyd van 19 minute en 40 sekondes opgestel en 15 sekondes voor die 18-jarige Tori Earle klaargemaak.

“Dit het baie goed gegaan,” het ’n verheugde Weber ná die ren gesê. “Ek het gesien die toestande is rustig en besluit om kalm te begin en net ’n gevoel vir die atmosfeer van die dag te kry. Daarna het ek vinniger en vinniger geswem en ’n goeie ren gehad.

“Ek was nie seker waar die ander was nie, of hoe ver agter my hulle was nie. Ek het iemand regs van my gesien (die 2020-kampioen, Robyn Kinghorn, wat vyfde was ná sy te wyd geswem het), maar vir myself gesê om net aan te hou swem. Jy wil nie senuweeagtig in oop water raak nie, want daar gaan soveel aan – en daar is die vrees vir donker waters – dat jy maklik oorweldig kan voel. Jy moet net kalm bly, dit geniet en jou bes probeer. Dis al wat jy kan doen.”

Weber het gesê die bygelowige deel van haar vind dit betekenisvol dat sy weer in ’n Olimpiese jaar kon wen.

“Dis so vreemd, want ek het in 2016 gewen, wat ’n Olimpiese jaar was, maar nie verlede jaar (in wat veronderstel was om ’n Olimpiese jaar te wees) nie. Nou is die Olimpiese Spele na vanjaar geskuif, so ek is baie bly ek kon dié keer wen. Dis net ’n sielkundige ding.”

• Die Midmar-myl se liefdadigheidsrenne sal ook steeds in die Midmar-dam gehou word, maar lede van die publiek kan nou net virtueel deelneem.

Die organiseerders het gesê diegene wat ingeskryf en betaal het om hierdie naweek in die Midmar-dam te swem, kan tot eerskomende Sondag op enige plek hul myl aflê en hul tye op die amptelike webblad (midmarmile.co.za) gaan registreer.

Meer oor:  Michael Mcglynn  |  Michelle Weber  |  Swem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.