Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Mick laat Schumacher-naam voortleef

Toe Michael Schumacher sowat agt jaar gelede byna in ’n ernstige ski-ongeluk omgekom het, het baie min ondersteuners geglo dat die legendariese Schumacher-dinastie in motorwedrenne sou voortleef.

Mick Schumacher en sy Prema-span vier Sondag fees ná die Sakhir-wedren in Bahrein. Foto: Getty Images

Michael, die sewemalige wêreldkampioen, se 21-jarige seun, Mick, het Sondag in Bahrein daarop voortgeborduur toe hy die Formule Twee-titel beklink het.

Mick het 18de in die ren geëindig, maar het op 215 punte geëindig, 14 punte meer as sy naaste teenstander, Callum Ilott, wat sy mede-jaer by die Ferrari-akademie is.

Schumacher moes sesde of beter eindig om die titel te wen, maar hy het sy bande beskadig en het van derde af na 19de teruggesak ná ’n onbeplande kuipestop.

Om eerlik te wees, ek is ’n bietjie oorstelp. Ek voel nog nie soos ’n kampioen nie.
Mick Schumacher

Ilott, wat die ren moes wen of tweede eindig en ook die vinnigste rondtetyd opstel, kon net 11de eindig.

“Om eerlik te wees, ek is ’n bietjie oorstelp. Ek voel nog nie soos ’n kampioen nie. Ek dink dit sal seker ’n paar dae neem om werklikheid te word,” het Schumacher gesê.

“Die ouens teen wie ek vanjaar gejaag het, was absoluut ongelooflik. Hulle jaag op die hoogste vlak en het baie respek getoon.

“Callum het my al my dae besorg. Dit was ’n baie tawwe jaar. So, ook ’n baie groot dankie aan hom.”

Die F2-kroon beteken dat Schumacher, wat voorheen ook die Formule Drie-titel beklink het, aanstaande jaar saam met Nikita Mazepin vir die Amerikaanse Haas-span in Formule Een sal jaag.

’n Emosionele Mick Schumacher nadat hy Sondag in Bahrein die F2-titel beklink het. Foto: Getty Images

Schumacher het vanjaar net twee oorwinnings in F2 behaal – een in Rusland en die ander op Monza in Italië, maar hy het die titel gewen danksy sy bestendigheid.

Hy was nie een keer op die voorste wegspringposisie nie, maar het reeds in September in Mugello die voortou by Ilott oorgeneem.

Schumacher sal aanstaande jaar sy F1-buiging in die Australiese F1-Grand Prix maak.

Naas sy pa, Michael, en oom Ralf, word Mick dus die derde lid van die familie wat in Formule Een sal jaag.

Toe hy ’n jongeling was, het Mick onder sy ma se nooiensvan “Betsch” in knortjorrenne gejaag om nie te veel aandag op hom te vestig nie.

Maar nou maak dit nie meer vir Mick Schumacher saak nie, want hy trap in sy legendariese pa, wat steeds sy held en rolmodel is, se groot voetspore. – Sportredaksie en Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.