Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Mick Schumacher: ‘F1 is my lot’

Mick Schumacher glo Formule Een is sy lot en sê sy beroemde pa het die maatstaf gestel wat hy wil handhaaf, eerder as om die huidige sterre van motorsport na te doen.

Mick Schumacher glo hy volg die beste pad om eendag in F1 mee te ding. Foto: Getty Images

Schumacher (20) is in sy eerste seisoen van Formule Twee, maar daar word deurlopend oor hom as ’n moontlike F1-renjaer gepraat.

Hy het vandeesweek kalm voorgekom in ’n onderhoud met Sky Sports in die aanloop tot die Spaanse Grand Prix in Barcelona, waar hy in die voorwedren sal meeding.

Schumacher het kwalik gehuiwer op die vraag met watter huidige F1-renjaer hy die meeste kan identifiseer: “Ek vergelyk myself nie regtig met enigiemand tans in F1 nie, uit die aard van die saak vergelyk ek myself met my pa,” sê hy.

“Om te kyk wat hy gedoen het, watter stappe hy gedoen het en wat hy anders as sy teenstanders gedoen het, asook om te kyk watter positiewes ek daaruit kan put.

“Maar daar is so baie talentvolle renjaers in F1, andersins sou hulle nie daar gewees het nie, so dit is altyd goed om met elkeen van hulle te gesels en soveel moontlik te leer.”

Michael Schumacher het ’n rekord sewe F1-titels gewen voordat hy in Desember 2013 ernstige breinbeserings opgedoen het in ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe.

Schumacher jr. is die fakkeldraer vir die gesin se beroemde naam in motorsport en op die vraag of hy voel dat F1 sy lot is, het hy vrymoedig verklaar: “Ja, dit is.”

Die Europese Formule Drie-kampioen het reeds sy debuut in ’n F1-toetsren gemaak toe hy verlede maand in Bahrein vir Ferrari en Alfa Romeo bestuur het.

Schumacher het ’n produktiewe begin aan sy nuwe uitdaging in F2 gemaak. Hy het in sy eerste vier wedrenne sesde, agtste, DNF (nie voltooi) en vyfde geëindig om 14 punte te versamel. Hy is negende uit 20 renjaers voor die vyfde ronde die naweek in Barcelona.

Hy beskou die F2-reeks as ’n natuurlike progressie in sy ambisie om die kruin te bereik.

“Dit is baie belangrik om dit stap vir stap te doen. Ons het dit tot op hede so gedoen en F2 behoort die laaste stap te wees voor F1,” sê Schumacher.

Meer oor:  F1  |  Mick Schumacher  |  Motorsport  |  Michael Schumacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.