Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Min dae oor vir Saskok se Gideon Sam?

Die minister van sport, Thokozile Xasa, verwag dat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) reeds teen einde April die nuwe padkaart wat sy vir hulle opgestel het, moet volg.

Dit beteken die president, Gideon Sam, kan reeds oor vier maande uit sy warm stoel wees.

Gideon Sam
Die Saskok-president, Gideon Sam. Foto: Gallo Images

Xasa het Vrydag in Pretoria aangekondig dat sy al die aanbevelings van die Zulman-komitee (wat vroeër vanjaar ondersoek ingestel het na die doen en late van Saskok) aanvaar het en so gou as moontlik geïmplementeer wil sien.

Dit sluit in dat die Olimpiese liggaam se volgende president deur ’n onafhanklike komitee aangewys moet word, eerder as deur Saskok se raad van affiliale, soos tans die gebruik is. Regter Ralph Zulman en sy mede-komiteelede, Ali Bacher en Shamima Gaibie, het ook aanbeveel dat raadslede vir ’n maksimum van twee vierjaar-termyne dien, eerder as die huidige drie, en hul affiliasie met enige sportliggame moet opsê.

Sam vier in Augustus 2019 sy 70ste verjaardag en moet dan die presidentskap opsê. Saskok gaan juis Saterdag by Saskok-huis afskeid neem van twee ander raadslede wat onlangs 70 geword het: die visepresident Hajeera Kajee en gewone raadslid Les Williams.

Volgens Bacher kan Sam besluit om wel tot Augustus te bly, maar sou dit meer behoorlik wees as daar teen April reeds ’n nuwe president is omdat al die minister se bepalings teen daardie tyd toegepas moet wees.

“Soos ons (as die komitee) dit in ons geestesoog gesien het, moet daar teen April ’n nuwe president wees,” het Bacher gesê.

Netwerk24 het die minister Vrydag gevra wat die toekoms vir die huidige raad inhou. Haar antwoord was dat hulle in dié stadium behoue sal bly, aangesien hulle die veranderinge by Saskok moet implementeer.

“Hulle moet nou die verslag vat en al my veranderinge aanbring. Ek wil maandelikse vorderingsverslae by hulle hê tot einde April,” het sy gesê.

Dit moet gebeur ondanks die feit dat sommige van die raadslede – onder andere Sam – tans in hul derde termyne dien. Dit druis in teen die komitee en minister se aanbeveling. ­

Die huidige president is ook nie deur ’n onafhanklike komitee verkies nie.

Bacher het gesê die komitee se wens is dat die volgende Saskok-president, die organisasie se handelsprokureur en rekenkundige almal persone “van buite die Saskok-sambreel” moet wees.

“Die ideaal vir die volgende president is dat dit ’n persoon moet wees wat hoogs gerespekteerd is, ’n indrukwekkende CV het, lief is vir Suid-Afrika en lief is vir sport,” het hy gesê.

Onder die ander veranderinge waarop die minister by Saskok aandring, tel:

  • Reisvoordele en ander toelaes vir Saskok se president, raadslede en uitvoerende hoof moet hersien word, en goedgekeur word deur ’n onafhanklike ouditeur;
  • ’n Liggaam wat bepaal watter atlete geregtig is op nasionale kleure moet op die been gebring word;
  • Die Olimpiese liggaam moet verseker dat daar te alle tye deursigtigheid, aanspreeklikheid en konsultasie is in besluitnemingsprosesse; en
  • Daar moet ’n volledige oudit van al Saskok se finansiële transaksies van die laaste vyf jaar gedoen word.

Volgens Bacher voorsien hy nie ’n situasie waar Saskok weier om die minister se padkaart te volg nie. “Sam het in die openbaar gesê Saskok sal doen wat sy (Xasa) van die organisasie vereis, waarvoor hy groot krediet moet kry,” het Bacher gesê.

“Ek dink die minister se besluit om ons aanbevelings te aanvaar en te laat instel is een van die mees betekenisvolle dinge wat in dekades in Suid-Afrikaanse sport gebeur het,” het Bacher bygevoeg. “Dit gaan net positief wees vir SA sport.”

Meer oor:  Zulman-Komitee  |  Thokozile Xasa  |  Saskok  |  Gideon Sam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.