Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Min glorie vir Afrika by Tour de France
Douglas Ryder, spanhoof van NTT. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse NTT-fietsryspan keer droëbek terug van die Tour de France nadat hy ook nie vanjaar daarin kon slaag om ’n skofsege te behaal nie – meer as drie jaar nadat ’n ryer van dié span dit die laaste keer kon vermag.

Die naaste wat die span vanjaar aan skofglorie gekom het, was toe die Italianer Giacomo Nizzolo derde in die derde skof, en Noorweë se Edvald Boasson Hagen tweede in die sewende skof was.

Uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt het die span se enigste plaaslike ryer in die Tour, Ryan Gibbons, 10de in die 11de skof geëindig.

Toe MTN-Qhubeka (soos die span destyds bekend gestaan het) in 2015 die eerste keer aan die Tour deelgeneem het, het die span vinnig sy stempel afgedruk.

Steve Cummings het op Mandeladag ’n skofsege behaal. Die volgende jaar het Cummings weer ’n skof gewen en Mark Cavendish het sommer in vier koning gekraai.

Maar Boasson Hagen se skofsege in 2017 was die laaste Tour-glorie vir die span van Afrika.

Om sake vanjaar vir NTT te vererger, het drie ryers, Nizzolo, Domenico Pozzovivo en Michael Gogl, nie die Tour voltooi nie.

“In die algemeen beskou was dit drie moeilike weke vir ons, en glad nie wat ons verwag het nie,” sê Bjarne Riis, NTT se spanbestuurder, in ’n verklaring.

“Ons het meer in gedagte gehad, maar ons was van die begin af ongelukkig met ongelukke, en om Pozzovivo voor die eerste rusdag te verloor, was te vroeg.

“Om Giacomo Nizzolo te verloor, wat ons beste kans was om iets te wen, so vroeg in die eerste week, was hartseer. Dit moes nie gebeur het nie, en ek moet sê dit maak baie seer.

“Ongelukkig het die res van die ryers net nie die krag gehad (vir skofseges nie). Ons het regtig daarvoor probeer, maar ons het nie die geluk of bene gehad om te doen wat ons verwag het nie.”

NTT het 20ste uit 22 in die spankompetisie klaargemaak – wêrelde verwyder van MTN-Qhubeka se vyfde plek in 2015 se Tour.

Giacomo Nizzolo se Tour de France is weens ’n besering kortgeknip. Foto: Getty Images

Daardie jaar het Eritrea se Daniel Teklehaimanot, wat destyds vir die span gery het, die eerste ryer van ’n Afrika-span geword om die Bobaas van die Berge-trui te dra.

’n Trui wat hy vir vier skofte gedra het.

Douglas Ryder, spanhoof van NTT, sê dit was vanjaar by ’n paar geleenthede so naby – maar tog so ver.

“Die Tour de France van 2020 is verby en watter wedren was dit.

“NTT het hoë verwagting gehad om skofte te wen, en ons het ’n sterk span ryers gehad wat die Suid-Afrikaanse kampioen Ryan Gibbons ingesluit het wat aan sy eerste Tour deelgeneem het.

“Sowel as die langste en swaarste ryer in die Tour, Max Walscheid (1,99 m en 90 kg),” sê Ryder.

“Op die sewende skof was Wout van Aert (Belg wat vir Jumbo-Visma ry) net-net te vinnig vir Edvald Boasson Hagen.

“Dit was waarskynlik die naaste wat ons aan ’n skofsege gekom het – en hoe naby was dit nie?”

Meer oor:  Koronavirus  |  Tour De France  |  Fietsren  |  Ntt-Span  |  Covid-19  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.