Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Minister dreig met wet oor transformasie

Minder as 10% van Suid-Afrika se 25 000 openbare skole bied enige georganiseerde sport aan, en leerlinge daar word boonop uitgesluit uit die goed georganiseerde stelsel van die land se voormalige Model C-skole.

Min. Nathi Mthethwa. Foto: Gallo Images

Dít, sê Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, in die voorwoord van die Eminent Persons Group (EPG) se nuutste verslag oor transformasie in Suid-Afrika, “kan nie langer deur die leierskap in die regering of sportsektor geïgnoreer word nie, omdat (skole) die talent-voerband vir Suid-Afrikaanse sport is”.

Die nuwe EPG-verslag is gister gepubliseer. Daarvolgens het meer as die helfte van die 18 federasies wat die EPG monitor, hul transformasie-teikens in 2018/’19 bereik, maar bly swart Suid-Afrikaners en vroue onderverteenwoordig in SA sport.

As dít nie verander nie, oorweeg Mthethwa “die moontlike gebruik van wetgewende werktuie” om te verseker dat transformasieteikens behaal word.

Dit is vir die minister ’n groot kwelpunt dat Suid-Afrika sonder transformasie weldra nie meer internasionaal sal kan saamgesels op die sportveld nie, aangesien die land se swart bevolking in die komende jare proporsioneel groter gaan word.

Hy illustreer dit deur te verwys na “ ’n geprojekteerde afname in die wit bevolking, van die huidige 4,5 miljoen tot sowat 2 miljoen teen 2050, ’n geprojekteerde afname van 33% oor die volgende 15 tot 20 jaar in die getal wit kinders onder 18 en, in dieselfde tydperk, ’n toename van 17 tot 21 miljoen in die swart ouderdomsgroep onder 18.

Sport is toenemend eksklusief en ontoeganklik vir die meerderheid van die skoolgaande bevolking.

“Dit is glashelder dat ons ons samelewing en toekomstige generasies in die steek sal laat as ons nie onversetlik is en betroubare vennote in die implementering van ons transformasie-agenda het nie.”

Die minister sê die nuutste EPG-verslag “verteenwoordig ’n waterskeidingsoomblik” wat skolesport betref.

Die verslag identifiseer ’n lang lys probleme wat sport by Suid-Afrika se openbare skole kniehalter, waaronder ’n gebrek aan sportgeriewe, onwillige onderwysers, min tot geen liggaamlike opvoeding en die feit dat voormalige Model C-skole ligas aanbied en net teen mekaar speel.

“Dit vergroot die gaping tussen dié skole en ander,” skryf die EPG.

“Sport is toenemend eksklusief en ontoeganklik vir die meerderheid van die skoolgaande bevolking. Sportfederasies het nie die hulpbronne of die daaglikse toegang om in kontak te wees met die meer as 25 000 skole oor die land heen nie. Die uiteinde is dat minder as 10% van die skole deelneem aan georganiseerde skolesport.”

* Die sportkode wat die grootste aantal kinders betrek, is atletiek, met 38% van die land se laerskole en 35% van hoërskole wat dit volgens die verslag aanbied.

Krieket kan gespeel word by ’n kwart van laerskole, maar dit val tot net 9% by hoërskole, luidens die verslag waarskynlik omdat KFC se mini-krieketprogram effektief is op laerskole-vlak, maar wegval vir hoërskole.

Netbal word by 12% van laerskole en 14% van hoërskole gespeel, terwyl rugby by 7% van sowel laer- as hoërskole aangebied word.

Sokker, die sport wat die grootste aanhang in die land het, het geen formele voetspoor op skolevlak nie – volgens die EPG ’n “groot en langdurige strategiese swakheid”.

* Wat senior sport betref, het slegs vyf van die 18 federasies wat in 2018 gemonitor is, nasionale manspanne in die veld gestoot met meer as 60% swart spelers.

Die Springbokke het luidens die verslag gemiddeld 22% swart Afrikane (en 39% nie-blanke spelers) gehandhaaf. Die nasionale manskrieketspan se syfers was onderskeidelik 23% en 52%. Syfers vir 2019 is nie in die verslag vervat nie.

In die nasionale vroue-netbalspan was 57% van die spelers wit.

* Die nodigheid vir transformasie in sport het intussen die afgelope week weer ’n paar stertvere gefrommel, toe Netbal Suid-Afrika (NSA) drie van die spanne vir vanjaar se Telkom-netballiga afgekeur het omdat dit slegs uit een distrik saamgestel is.

Gauteng, Vrystaat en Noordwes is aangesê om ’n verslag saam te stel van wie genooi is na die proewe vir die betrokke spanne – Gauteng-Noord se Jaguars, die Vrystaat Crinums en die Noordwes Flames – asook die stand van ontwikkeling in hul onderskeie distrikte.

Blanche de la Guerre, uitvoerende hoof van NSA, het gesê die drie spanne is nie van die kompetisie gediskwalifiseer nie.

“Hoekom sou ons dit doen? NSA se beginsel is om spelers op die baan te hou, nie van die baan te dryf nie,” sê sy.

De la Guerre sê NSA se mikpunt is nie om sekere spelers uit die nasionale liga te hou nie, maar om te verseker dat spelers uit alle distrikte die geleentheid gegee word om daar uit te kom.

“Die EPG stel dit baie duidelik dat wit Suid-Afrikaners besig is om minder te raak en ons glo ’n sport soos ons s’n, met soveel spelers – meer as 2 miljoen landwyd – móét wyer kyk en seker maak goeie spelers gaan nie in sommige distrikte verlore nie.

“Die onderskeie provinsies weet dit ook. As ons hulp van die nasionale regering wil hê, moet daar ontwikkeling in ons provinsies plaasvind. As hulle dus net uit een distrik kan span kies, moet hulle aan ons verduidelik wat aangaan in die ander distrikte. Dalk kan NSA help in daardie distrikte waar ontwikkeling agterweë bly, maar hoe help ons as ons nie weet nie?

“Ons sal nooit sê ’n goeie speler moet uit ’n span gegooi word om plek te maak vir een uit ’n ander distrik, net sodat ons kan sê meer distrikte word verteenwoordig nie. Maar ons moet seker maak spelers van oral het ’n regverdige kans om vir die span gekies te word, en daarom wil ons seker maak die proewe was oop vir al die distrikte.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.