Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Mnr. Dakar’ Peterhansel wen nóg ’n skof

Die Fransman Stéphane Peterhansel het Dinsdag die derde keer in die motor-afdeling in vanjaar se Dakar-uitdaagren eerste oor die eindstreep gejaag – slegs 15 sekondes voor die verdedigende kampioen, Nasser Al-Attiyah.

Dor en leeg . . . die Mini van Fransman Stéphane Peterhansel en sy navigator, Paulo Fiúza, is Dinsdag ’n blote spikkeltjie teen die oranje duine van die Arabiese woestyn. Foto: Reuters

Peterhansel – oftewel “Mnr. Dakar” uit erkenning vir sy 13 vorige Dakar-reeksoorwinnings (sewe in ’n motor en ses op ’n motorfiets) – het die neus van sy Mini in die negende skof net-net voor dié van Toyota se Al-Attiyah gehou terwyl albei ekstra druk op die huidige pasaangeër, Carlos Sainz, geplaas het.

Sainz (Mini) kon net 6 minute en 31 sekondes ná Peterhansel in die vyfde plek eindig. Dit beteken sy algehele voorsprong op Al-Attiyah is tot ’n skrale 24 sekondes en op die derde geplaaste Peterhansel tot 6 minute en 38 minute gesnoei.

Suid-Afrika se Giniel de Villiers (Toyota Gazoo) het die skof 11 minute ná Peterhansel in die agtste plek voltooi. Hy is algeheel sesde, en 57 minute en 57 sekondes agter Sainz.

Peterhansel het gesê sy mikpunt is om soveel druk as moontlik op Sainz te hou.

“Vandag was dit weer ’n skof waarin ons 100% op die aanval was,” het hy gesê van die negende skof. “Ons het uit die staanspoor probeer aanval, maar sonder om die krane te veel oop te draai.”

Al-Attiyah het gesê hy is baie tevrede met sy dag se werk.

Ons het uit die staanspoor probeer aanval, maar sonder om die krane te veel oop te draai.
Stéphane Peterhansel

“Ons het ons bes gedoen en vandag (Dinsdag) ’n baie goeie skof gehad. Ek is baie tevrede dat ons die gaping tussen ons en Carlos kon verklein. Vandag en môre (Woensdag en Donderdag) gaan vir almal baie, baie moeilik wees. Dis ’n goeie ding dat Stéphane eerste sal wegspring op ’n marathon-dag (Woensdag) en dan sal ons sien wat met Carlos gebeur. Vir al drie van ons is dit steeds moontlik om die Dakar te wen.”

Woensdag se tiende skof sal oor 608 km tussen Haradh en Sjoebajta strek en die deelnemers deur die berugte Roeb al-Chali neem. Dít is ’n yslike stuk woestyn wat van die Dakar-gasheer, Saoedi-Arabië, tot in Oman, die Verenigde Arabiese Emirate en Jemen strek.

Die laaste 30 km van die skof sal ’n magdom duine insluit en beloof om ’n reuse-uitdaging te wees.

* In die motorfiets-kategorie het die Chileen Pablo Quintanilla (Husqvarna) sy eerste skofsege van die kompetisie behaal.

Hy het byna twee minute voor die verdedigende kampioen, Australië se Toby Price, klaargemaak.

Quintanilla is steeds tweede in die algehele klassifikasie – 20 minute en 53 sekondes agter die Amerikaanse voorloper, Ricky Brabec (Honda), wat vierde in die negende skof geëindig het. – Sportredaksie & Sport24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.