Formule Een se Monaco-Grand Prix sál hierdie seisoen plaasvind nadat dit in 2020 weens die Covid-19-pandemie gekanselleer moes word.
Organiseerders het dié belofte gemaak in reaksie op bespiegelinge dat een van die hoogtepunte op die Formule 1-kalender weer in die slag kan bly.

Organiseerders van die Monaco-Grand Prix hou vol dat dit steeds vanjaar sal voortgaan. Foto: Getty Images
Dié straatbaan-Grand Prix, waar daar verby die hawe in Monaco gejaag word, is tradisioneel een van die gewildste en glansrykste wedrenne van die jaar.
Dit is geskeduleer om op 23 Mei plaas te vind as die vyfde ronde op ’n kalender, wat vroeër die maand aangepas is weens die skerp styging in koronavirusinfeksies.
“Ten spyte van gerugte wat op sekere webtuistes en sosiale media die rondte doen, kan @ACM_Media bevestig dat die #MonacoGP sal plaasvind van 20 Mei tot 23 Mei 2021,” het die Automobile Club de Monaco (ACM) op Twitter gesê.
Die historiese Grand Prix-wedren vir klassieke Formule 1-motors is ook bevestig om op 23 tot 25 April daar gehou te word, terwyl daar ’n Formule E-wedren in Monaco op 8 Mei sal wees.
Die eerste ronde van die wêreldtydren-kampioenskap, die Monte Carlo-tydren, begin Donderdag en eindig Sondag in die Mediterreense prinsdom.
Die 2020 F1-seisoen was eers uitgestel en toe verkort tot 17 wedrenne, meestal sonder toeskouers.
Die straatwedrenne in Monaco, Azerbeidjan en Singapoer het almal in die slag gebly.
Waar die koronavirus weer besig is om op te vlam en meer aansteeklik as voorheen is, het verskeie lande strenger reisbeperkings ingestel.
Australië, wat normaalweg die eerste wedren van die seisoen aanbied, sal nou eers in November gasheer speel weens huidige kwarantynmaatreëls, terwyl daar steeds groot onsekerheid oor China se wedren in Sjanghai is.
Formule Een het self die afgelope naweek ook gerugte ontken dat straatwedrenne afgelas gaan word en dié gissinge as “heeltemal verkeerd” bestempel. – Reuters