Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Monaco Grand Prix glo weer van die baan

Die Monaco Grand Prix en twee ander Formule Een-straatrenne kan moontlik aanstaande maand gekanselleer word.

Die Monaco Grand Prix sal glo vir die tweede agtereenvolgende jaar nie plaasvind nie. Foto: Getty Images

Volgens ’n berig op die webtuiste van die Nederlandse tydskrif Formule1 gaan die glansryke wedren in Monte Carlo, sowel as die Grands Prix in Azerbeidjan en Kanada, vir die tweede agtereenvolgende jaar geskrap word.

Dit is volgens die berig ’n regstreekse gevolg van die Covid-19-pandemie en die onsekerheid wat dit wêreldwyd veroorsaak.

Die organisering van straatrenne soos dié in Monte Carlo, Baku en Montreal moet maande vooraf reeds begin en beamptes wil hulself nie tot planne verbind terwyl daar twyfel is of die pandemie hulle wel sal toelaat om die renne aan te bied nie.

Ten spyte daarvan dat inentings teen die koronavirus reeds in talle lande beskikbaar is, hang daar vraagtekens oor hoedanig die lewe na normaal sal terugkeer in die eerste helfte van 2021.

Formule1 skryf: “(Die Grands Prix in) Monaco (23 Mei), Azerbeidjan (6 Junie) en Kanada (13 June) sal volgens ingeligtes wegval, net soos verlede jaar. ’n Aankondiging hieroor word volgende maand verwag.”

Die berig wys daarop dat Kanada sy grense reeds ’n ruk gelede vir buitelanders gesluit het en ’n baie streng koronavirusbeleid het.

“Op die Gilles Villeneuve-baan, soos in Monte Carlo en Baku, moet die paviljoene, kuipe en gasvryheidsgeriewe vroeg al opgerig word. Verlede jaar is die ren reeds vroeg in April gekanselleer.”

Volgens Formule1 is gebeurlikheidsplanne wel reeds opgestel vir as die drie renne afgelas word. Renne sal dan in die plek daarvan in Istanbul (Turkye), Mugello (Italië) en by Nurburgring (Duitsland) plaasvind.

Die FIA het reeds ’n oop datum op sy F1-skedule, nadat die Viëtnam Grand Prix gekanselleer is. ’n Portugese Grand Prix sal na verwagting in die plek daarvan op 2 Mei plaasvind. Dit sou uit ’n logistieke oogpunt sin maak, met die ren in Barcelona net ’n week later.

Imola (Italië), een van vyf bane waar renne verlede jaar aangebied is om ander gate te vul, sal op 18 April weer die Emilia Romagna Grand Prix aanbied. Dié besluit is geneem omdat die Chinese Grand Prix onbepaald uitgestel is.

Die tradisionele eerste ren van die jaar, in Australië, is boonop uitgeskuif tot 21 November. Dus sal die 2021-seisoen op 28 Maart in Bahrein begin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.