Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Mosie van wantroue wag op Saskok-raad

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) se raad is nou onder skoot van sy eie lede, met 29 van die land se sportfederasies wat aandring op ’n geleentheid om ’n mosie van wantroue teen die raad in te stel.

Aleck Skhosana, die huidige waarnemende president van Saskok. ’n Groep sportfederasies wil ’n mosie van wantroue in die Saskok-raad instel. Foto: Gallo Images

Met Kanovaart Suid-Afrika aan die voorpunt, het 30 federasies op 8 Mei in ’n brief aan Saskok se waarnemende uitvoerende hoof, Ravi Govender, gevra vir ’n spesiale algemene vergadering. Daar wil hulle die mosie van wantroue op die tafel plaas en administrateurs aanstel om die sake van Saskok te behartig tot ’n nuwe raadsverkiesing plaasvind.

Een van die 30, Netbal Suid-Afrika, het intussen sy steun onttrek, maar volgens Kim Pople, die president van Kanovaart Suid-Afrika, is die versoek steeds geldig omdat meer as 28 federasies daarop aandring.

Saskok is gevra om binne 21 dae (dus teen komende Vrydag) op die versoek te reageer. Govender het aan Netwerk24 gesê die organisasie sal daaraan gehoor gee.

Volgens Govender het die raad van Saskok juis op 7 Mei aan sy lede gesê hy wil ’n spesiale vergadering belê, maar kon hulle weens die onsekerheid wat die land se inperkingsmaatreëls veroorsaak het, nie ’n datum daarvoor spesifiseer nie.

Govender sê die raad het verlede week weer die kwessie bespreek en sal in Junie, nadat vlak 3 van die inperking betree is, in ’n beter posisie wees om ’n datum vas te stel.

Pople sê daar is besluit om ’n mosie van wantroue teen die Saskok-raad in te stel omdat die federasies moeg is vir die negatiwiteit rondom Saskok en die rimpel-effek daarvan.

As Saskok net geld het om ’n sekere getal atlete na volgende jaar se Olimpiese Spele te stuur, is dit die federasies wat self vir die res moet sorg. Dis nie hoe dit hoort nie.

“Die Suid-Afrikaanse sportbedryf is relatief klein en daar is net soveel plekke van waar borgskappe kan kom. Maar omdat daar soveel negatiwiteit rondom Saskok is, is die maatskappye wat ons moontlik kan borg nie baie gretig om hul gewig agter sportliggame te gooi nie. Ons het positiewe nuus nodig en daarvoor het ons verandering in Saskok self nodig,” sê sy.

“Daar is net te veel binnegevegte en te veel onsekerheid. Saskok het in hierdie stadium ’n waarnemende uitvoerende hoof, ’n waarnemende finansiële hoof en ’n waarnemende hoëprestasiebestuurder . Op die raad is die waarnemende eerste vise-president nou die waarnemende president, in die plek van die vorige waarnemende president, wat ondersoek word. Die raad is ook nie voltallig nie en ’n klomp van die lede is boonop gekoöpteer, eerder as verkies.

“Ons moet ook kyk na die finansiële situasie. As Saskok net geld het om ’n sekere getal atlete na volgende jaar se Olimpiese Spele te stuur, is dit die federasies wat self vir die res moet sorg. Dis nie hoe dit hoort nie.

“Selfs die minister (van sport, Nathi Mthethwa) praat konstant oor die nodigheid vir verandering by Saskok. Ons as federasies besef: net die federasies kan die nodige veranderinge afdwing. Ons het daardie mag, ons moet dit gebruik.”

Pople sê ’n mosie van wantroue sal aanvaar word as 44 federasies daarvoor stem. Dit beteken meer liggame as die 29 wat vir die spesiale vergadering vra, moet só ’n mosie steun, maar Pople sê dit is haalbaar.

“Ek moet sê, daar is baie negatiewe verwikkelinge wat deur die Covid-19-pandemie meegebring is, maar een wonderlike ding wat daaruit gevloei het, is dat ons as federasies nou meer tyd het om met mekaar te kommunikeer en saam te werk vir wat ons wil hê.

“In daardie opsig moet ek ook Saskok se ‘oorlogskamer’ vermeld. Al die federasies het finansiële probleme en deur die oorlogskamer-inisiatief praat ons gereeld, gee ons mekaar raad en probeer ons saam ’n oplossing vind.

“Hopelik is dit iets wat ons kan behou selfs wanneer die pandemie verby is, want as ons saamstaan, is ons almal sterker.”

Pople sê sy het volle vertroue dat ’n beter Saskok-raad daargestel kan word.

Ons wil gelei word deur Saskok en dis in ons mag om die beste leierskap daar te stel.

“Daar is soveel uitmuntende, eerlike, hardwerkende sportadministrateurs in hierdie land. Mense hoor net van administrateurs wanneer daar korrupsie oopgevlek word of binnegevegte is en die goeie werk van ’n horde ander word misgekyk.

“Maar daar is by my geen twyfel nie dat daar genoeg goeie mense in SA sport is om Saskok vorentoe te neem. Baie van hulle is benoem vir die verkiesing, so dis nie nodig vir ’n nuwe benoemingslys nie. Uit die huidige groep kandidate kan ’n uitstekende raad saamgestel word,” sê Pople.

“Ons wil gelei word deur Saskok en dis in ons mag om die beste leierskap daar te stel.”

* Die Saskok-“oorlogskamer”, wat uit verteenwoordigers van die federasies, mediese kenners en Saskok-personeel bestaan, het intussen volgens Govender met die hulp van die departement van sport ’n volledige voorlegging vir die nasionale Covid-19-bevelsraad (NCCC) opgestel om te motiveer waarom sport weer aan die gang moet kom.

“Daar is verskillende protokolle vir verskillende federasies voorgestel, omdat kontaksporte en nie-kontaksporte nie oor dieselfde kam geskeer kan word nie. Ons wag nou om te hoor wat besluit is,” sê Govender.

Soos Pople is Govender ook baie positief oor hoe Saskok en die federasies die laaste weke hande gevat het om ’n pad vorentoe vir sport te vind.

“Ek sal dit so stel: in enige huis is daar struweling tussen broers en susters, maar wanneer jy by die hek uitry, is dit as ’n familie. Dis dieselfde in sport. Ons (Saskok en die federasies) het almal dieselfde doel voor oë en werk as ’n kollektief saam om dit te bereik.”

Na verneem word sal die NCCC eers Vrydag uitspraak lewer oor vlak 3-maatreëls vir sport. Tot dan is al die federasies op hete kole, sonder enige leidrade oor watter roete die NCCC sal volg.

Meer oor:  Mosie Van Wantroue  |  Aleck Skhosana  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.