Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Murray mik na podiumplek in Tokio

Nommer een, twee of drie, maar nie weer vier nie.

Richard Murray loer oor sy skouer of die “catcher car” hom gaan verbysteek tydens ’n vorige Wings for Life World Run-wedloop. Foto: Red Bull Content Pool

Die Suid-Afrikaanse driekampatleet Richard Murray koester hoë verwagtinge vir sy derde Olimpiese Spele later vanjaar.

“Ek hoop om op die podium te kan staan,” sê Murray.

In 2016 in Rio de Janeiro moes hy ná Alistair Brownlee, Jonathan Brownlee en sy landgenoot Henri Schoeman met die vierde plek tevrede wees.

“By my eerste Spele in 2012 was ek 17de en vierde in 2016. Om in Tokio op die podium te kan staan, sal regtig iets wees wat ek in my loopbaan wil vermag.”

Die 32-jarige Murray sê gewoonlik teen dié tyd van die jaar sou driekampers al ’n byeenkoms of twee agter die rug gehad het.

Dit het nog nie gebeur nie en atlete moet vir eers met oefenkampe tevrede wees.

Die wêreldreeks wat vanjaar in agt stede beslis sal word, begin eers op 15 Mei in Jokohama, Japan.

’n Filosofiese Murray sê voorbereiding en oefening is soms belangriker as deelname aan ’n byeenkoms.

“Soms word ’n paar maande se voorbereiding geringgeskat teenoor byeenkomste. Jy moet op die regte tyd jou piek bereik vir Tokio.”

Richard Murray oefen sy hardloopspiere. Foto: Red Bull Content Pool

Murray sê hy het ’n maand se voorbereiding verloor omdat hy aan die begin van die jaar baie siek was tydens sy oefenkamp saam met die Nederlandse span in Windhoek.

“Dit was nie Covid-19 nie, maar ek het gesondheidsprobleme gehad en dit was ’n rowwe begin tot die jaar.

“Ons speel dus nou ‘catch up’ en ek moet myself in ’n goeie toestand en op ’n hoë fiksheidsvlak kry.

Hy voel hy is stadig maar seker besig om sy fiksheid te herwin.

Die Kapenaar het onlangs saam met die Nederlandse span voorberei in Fuerteventura op die Kanariese Eilande, wat rotsagtig en baie winderig is.

Hy is nou weer terug in Nederland, waar hy en sy Nederlandse vrou, Rachel Klamer, woon.

“Nadat ek siek was, het ek vir ’n maand of so getwyfel of ek gereed en fiks sou wees vir die Spele.

“Dit het my herinner aan 2016, toe ek my sleutelbeen gebreek het en ook moes inhaal om gereed te wees vir die Spele in Rio.

“Kom ons kyk of my voorbereiding – ook geestelik – op die regte pad was.

Jy moet fisiek en geestelik so sterk wees soos jy kan – dit is hoe jy die beste uit jouself haal.

Tussendeur sy voorbereiding vir die wêreldverhoog, sal Murray ook op 9 Mei aan die wêreldwye Wings for Life World Run deelneem.

Hy is ’n ambassadeur van dié liefdadigheidsprojek, wat geld insamel vir navorsing oor rugmurgbeserings.

“Ek is sedert 2015 daarby betrokke. Ek het buite Stellenbosch 30 km saam met Ryan Sandes gehardloop.

“Die Wings-wedlope wat ek gedoen het, was die langste wedlope wat ek tot dusver gehardloop het. Dit was ’n uitdaging en pret en goed om deel daarvan te wees en te sien die opbrengs gaan vir ’n goeie saak.”

Hy sal vir die wedloop in Windhoek wees en sê sy liggaam sal nie dan gewoond wees aan die lugdruk nie.

“So ek sal nie dan al so ver kan hardloop nie, ek wil nie my voorbereiding ontspoor deur my liggaam te hard te druk nie. So ek mik na 20 km.”

Richard Murray oefen in Februarie in Kaapstad. Foto: Red Bull Content Pool

Die Olimpiese driekamp-afstande is 1 500 m (swem), 40 km (fietsry) en 10 km (hardloop).

Die Wings for Life-projek bevorder ’n aktiewe lewenstyl en Murray sê dit is vir alle fiksheidsvlakke.

“Selfs al kan jy nie hardloop nie en dalk net vinnig stap, is dit goed om deel te wees daarvan. Dit sal voel asof jy deel van ’n wedloop is.”

Hardlopers en rolstoelatlete kan enige afstand aflê en neem teen ander deel via die app.

Deelnemers wêreldwyd begin op dieselfde tyd. Dertig minute ná die afsitterspistool geklap het, trek ’n motor weg en begin sy jaagtog om die atlete in te haal. As die motor jou verbysteek, het jy die wedloop suksesvol afgelê.

Murray sê mense wil ná 2020 se inperking meer tyd in die buitelug deurbring en hulself druk om beter te presteer.

“Daar is meer belangstelling in hardloop, fietsry en selfs driekamp word groter, selfs al is daar nie so baie byeenkomste nie,” sê Murray.

• Sedert 2014 het 700 000 geregistreerde deelnemers van 195 lande altesame sewe miljoen kilometer afgelê. Sowat 30 miljoen is so ingesamel.

Suid-Afrikaanse deelnemers sal om 13:00 wegspring.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Richard Murray  |  Atletiek  |  Driekamp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.