Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Marizanne Kok gesels met Ryan Gibbons
’n Lewe in die greep van tweewiel-koors

Ná SA titel is Johannesburger honger vir gróót sukses in Europa.

Ryan Gibbons laat wiel tydens die negende skof van die Giro d’Italia verlede jaar – ’n tydtoets tussen Riccione en San Marino. Foto: getty

Hy draai na die kelner met ’n effense vonkel in die oog. “Coke Zero, asseblief,” vra hy. “En,” met die gretigheid van iemand wat nou ’n regte bederf gaan kry, “ ’n cappuccino ook, asseblief.”

Dis nie gulsigheid nie, skerm Ryan Gibbons later laggend. “Ek is mál oor koffie,” sê hy. “En jy moet onthou, ek het vanoggend vér gery, ek moet refuel.”

Dis net vier dae sedert die 25-jarige Randburger ’n jare lange droom waar gemaak het deur as Suid-Afrika se padfietskampioen gekroon te word – ’n titel wat hy met breukdele van ’n sekonde voor die grote Daryl Impey se neus weggeruk het – maar van stilsit was daar geen sprake nie.

Die heuwels van die Sterkfontein-grotte, Magaliesburg en die Wieg van die Mensdom het al almal vandeesweek weer sy wiele hoor sing. ’n Beroepsfietsryer sal nêrens kom as hy net op die plat paaie van Johannesburg rondkerjakker nie, verduidelik hy.

En “nêrens kom” is nêrens op dié jong man se wenslys nie.

Gibbons het verlede Sondag twee jaar van wonde lek by die nasionale kampioenskappe op die agtergrond geskuif – aan die begin van net sy vierde jaar in die beroepsgeledere – deur die nasionale kroon te verower.

Twee jaar gelede, vertel hy, het ’n ongeluk sy planne beduiwel. Verlede jaar het sy fiets gebreek en was hy gelukkig dat hy met ’n spaarfiets kon klaarmaak.

Hier tien ouens met ’n realistiese kans om te wen. In Europa is dit nader aan 180.

“Dit was sommer net ’n fiets wat die ondersteuningspan gehad het – nie my grootte nie, nie aangepas volgens die nuutste spesifikasies nie. Maar jy sê nie nee daarvoor nie, al was dit ’n gestoei. Op een of ander manier het ek ’n tweede plek op daai fiets losgery, so dankie tog ek het ’n span agter my gehad, met ’n fiets. Dié jaar was daar nie so iets nie, so dankie tog alles het glad verloop.”

Die spreekwoordelike juk is nou van sy skouers af, sê Gibbons. Vir die res van die jaar gaan hy op afsitterspistole wag met die Suid-Afrikaanse trui aan sy lyf.

“Een of ander tyd gaan ek seker daaraan gewoond raak, gaan dit maar net een van daai dinge wees, maar dit is só ’n waardevolle ding ten opsigte van motivering en ’n herinnering van waartoe jy in staat is.

“Ek weet daar kom ekstra druk saam met hierdie titel, want skielik is daar soveel oë op jou. Hier is Ryan Gibbons, die Suid-Afrikaanse kampioen – kom ons kyk hoe goed is hy regtig. Maar vir my is dit dieselfde: ‘Hier is jy Ryan, die Suid-Afrikaanse kampioen. Kyk wat het jy reggekry.’

Die selfvertroue wat daarmee saam kom, is onmeetbaar. In ons bedryf kan jy maklik vergeet hoe om te wen.

Ryan Gibbons

“As jou rol in die span net dié van domestique is, een van die ouens wat bloed sweet om iemand anders eerste oor die eindstreep te kry, is wen nie jou prioriteit nie. So jy is dalk in ’n volgende ren nie die domestique nie, en kry jouself in ’n posisie om te wen, maar jou kop is vol onsekerheid, want dis nie meer iets waaraan jy gewoond is nie.

“Toe ek as 17-jarige in die Ju­nior Toer gery het, het ek omtrent die helfte van die renne waarvoor ek ingeskryf het, gewen. Ek het net geweet hoe, ek het nooit getwyfel of ek kán nie. Maar dis soos enige gewoonte, dit hou nie outomaties vir altyd nie.”

Vir Gibbons is die doelwit in die volgende paar maande dus om in Europa aan meer deure te gaan klop totdat daardie eerste Europese oorwinning kom. Want uit ervaring weet hy, sukses kweek sukses.

“Jy wen dalk een keer, en dan wen jy in die weke daarna sommer weer en weer. En dan kry jy jouself in ’n posisie waar die span sê: ‘Oukei Ryan, ons weet jy kan wen, so in hierdie kompetisie gaan die res van die span vir jou werk.’ Daar is geen skande daarin om die domestique te wees nie, maar dit kan jou ’n bietjie breek om dit vir altyd te doen. Dis nie die droom nie.”

Europa is die kroonjuweel-bestemming in wêreldfietsry, verduidelik Gibbons. Dis waar hy nou móét wen, meen hy.

“Ek het ’n groot begin tot my loopbaan gehad: Ek het in my eerste jaar (2017) in ’n Grand Tour (die Giro d’Italia) gery en die Toer van Langkawi in Maleisië gewen, maar ek dink jy word eers regtig ernstig opgeneem as jy in Europa gewen het.

“Onthou, daar is dit ’n heel ander sport as hier by ons. In België is dit byvoorbeeld nou al so 100 jaar hul grootste sport. So daar kom maklik 30 beroepsryers in ’n jaar net uit België. Die hele Afrika lewer dalk twee ’n jaar op.

“Hier tree jy aan vir ’n ren en daar is tien ouens met ’n realistiese kans om te wen. In Europa is dit nader aan 180. Die vlak is net soveel hoër daar.”

Europa is natuurlik ook waar die geelste van geelwortels vir enige fietsryer hang, in die vorm van die Tour de France.

Vanjaar, sê Gibbons, is deelname daaraan hom hopelik uiteindelik beskore in die nuwe blou trui van sy NTT-span (voorheen die Dimension Data-span, voor dit MTN-Qhubeka).

“Soos sake nou staan, is ek op die lys, maar daar was verlede jaar ook sprake dat ek sou deelneem, en toe word ek siek en die kans verdamp,” sê hy.

“Dit sal ’n absolute hoogtepunt wees as dit vanjaar kan gebeur. Dit is ’n Olimpiese jaar, en daar is ’n kans dat ek ook in Tokio by die Spele sal deelneem, wat natuurlik vir enige atleet ’n enorme voorreg is. Maar in ons sport is níks groter as die Tour nie.”

Die Tour, sê Gibbons reguit, is waarskynlik nie iets wat hy ooit sal wen nie.

Om daar te wen, is ’n voorreg wat net die beste klimmers beskore is, en met sy breë skouers en lang lyf is die monster-bulte van Europa eenvoudig nie sy forte nie.

“Ek kan so maer word as wat ek wil, myself letterlik uithonger, maar ek sal nooit soos ’n Louis Meintjes of ’n Chris Froome vir 5 of 10 of 30 km lank dié lyf teen volspoed teen ’n opdraand kan opdryf nie. Maar vir ons naelryers is daar ander doelwitte, daar is skofte wat ons in die Grand Tours kan wen, en eendag-renne waarin ons ons staal kan wys.”

In die saamstel van sy loopbaandoelwitte volg Gibbons sy groot held, Mark Cavendish, die Britse naellegende wat oor die jare 30 Tour-skofte gewen het, na. Cavendish was twee jaar Gibbons se spanmaat by Dimension Data en is langer as ’n dekade reeds ’n rolmodel.

“Toe ek aan die begin van 2017 by ons beroepspan ingetrek word (ná ’n paar jaar in die ontwikkelingspan) was my eerste ren saam met Cavendish – ’n droom wat waar geword het. Natuurlik is my ambisie om te bereik wat hy het, maar as ek net die helfte so goed vaar, sou ek ’n loopbaan gehad het om op trots te wees.”

Vir daardie loopbaan, sê Gibbons, is hy bereid om bloed te sweet en op te offer.

“Ek is bevoorreg om te doen wat ek doen. Dit maak die opofferings maklik.”

Meer oor:  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.