Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
’n SA Hilux kraai koning in Dakar-veldren
Matthieu Baumel (navigator, links) en die wenjaer van die Dakar, Nasser Al Attiyah, sekondes nadat hulle Donderdag in Lima by die eindpunt as algehele wenners in hul SA geboude Toyota Hilux oor die wenstreep gejaag het. Foto: Waldo van der Waal

Toyota SA se internasionale renspan wat die Dakar-veldtydrenmotors hier bou en ontwikkel, het uiteindelik ná agt probeerslae die wêreld se langste en moeilikste motorren gewen.

Ongelukkig kom dié eer nie Suid-Afrika se eie Dakar-held Giniel de Villiers toe nie, maar wel sy spanmaat Nasser Al-Attiyah van Katar.

Al-Attiyah en sy navigator, Matthieu Baumel van Frankryk, het Donderdagmiddag (SA tyd) los voor die res van die renveld eerste in sy Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux oor die eindstreep gejaag ná 10 skofte van net minder as 5 000 km algeheel met 3 000 km se sneltrajekte.

Kenny Gilbert het geskitter in sy Dakar-debuut. Foto: motorsportmedia.co.za

Daarbenewens het twee Suid-Afrikaans motorfietskampioene, Ross Branch (KTM) en Kenny Gilbert (Husqvarna), die eerste en tweede plekke in die afdeling vir debuutjaers beklink.

Die ren is vanjaar uitsluitlik in Peru beslis en Al Attiyah het die laaste dag danksy die voorsprong van bykans ’n uur waarmee hy Donderdagoggend weggespring het, “rustig” gery. Dit was sy eerste oorwinning as lid van die Toyota Gazoo Racing SA-renspan, maar op persoonlike vlak sy derde sukses by dié byeenkoms – telkens in ’n ander fabrikaat.

Agter hom het Carlos Sainz (Mini) hard baklei om Sebastian Loeb (Peugeot) en Cyril Despres (Mini) agter hom te hou en die kort, laaste sneltrajek gewen.

Al- Attiyah het maar net in die 12de plek huis toe gekruie, maar was die algehele wenner met ’n voorsprong van uiteindelik 46 minute voor Nani Roma (Mini), gevolg deur die legendariese tydrenjaer Sebastien Loeb in sy Peugeot met Jakub Przygonski (Mini) algeheel vierde. Die Fransman Despres was algeheel vyfde.

De Villiers, en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, wat 2009 se tydren – die eerste in Suid-Amerika – in ’n Volkswagen Touareg gewen het, het die negende plek algeheel in hul SA Toyota Hilux ingeneem nadat hulle vroeër ná ’n onderonsie met ’n klip tot 45ste teruggesak het.

De Villiers, en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, het die negende plek algeheel in hul SA Toyota Hilux ingeneem nadat hulle vroeër ná ’n onderonsie met ’n klip tot 45ste teruggesak het.

Die motorfietsren het – soos verwag is – tot letterlik die laaste kilometer van Donderdag se sneltrajek oor 112 km gewoed en dit was uiteindelik Toby Price (KTM) van Australië wat die laaste sneltrajek gewen en ook aan die bopunt algeheel geëindig het.

Pablo Quintanilla (Husqvarna) van Chili en Matthias Walkner (KTM) van Oostenryk het heel agter weggespring (die renvolgorde vir die laaste dag is omgekeer) en was algeheel net ses minute uitmekaar, maar Quintanilla het vroeg neergeslaan en beseer verder gejaag.

Toby Price is vanjaar die wenner van die motorfietsafdeling. (Foto: AP)

Price het weggebreek en die dag en algehele oorwinning beklink – sy tweede Dakar-oorwinning in vyf renne (en KTM se 18de).

Walkner, wat verlede jaar gewen het, was uiteindelik tweede algeheel. Die Brit Sam Sunderland (KTM) was derde, die Husqvarna-tweeling Quintanilla en die jong Amerikaner Andrew Short onderskeidelik vierde en vyfde met Xavier de Soultrait op sy Yamaha sesde.

Die Russiese Kamaz-jaer Eduard Nikolaiev het die afdeling vir vragmotors gewen terwyl Nicolas Cavigliasso van Argentinië die afdeling vir vierwielmotorfietse geheel en al oorheers het.

Die afdeling vir motorfietsmotors is deur nog ’n Chileense jaer, Francisco Lopez Contardo beklink.

Die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glynn Hall, het uiteindelik sy droom om die Dakar-ren te wen, verwesenlik, al was dit nie met De Villiers agter die stuur nie.

Hall, wat die eerste Dakar-Toyota in 2012 ingeskryf het, was onder groot druk omdat sy span weens ’n tekort aan die soort geld wat ander wêreldspanne bestee het, nooit werklik as ’n bedreiging beskou is nie.

Nou het ons dit uiteindeik reggekry – ’n Suid-Afrikaans geboude Hilux eerste oor die wenstreep!
Glynn Hall

“Nou het ons dit uiteindelik reggekry – ’n Suid-Afrikaans geboude Hilux eerste oor die wenstreep!”

* Suid-Afrika se heel eerste Dakar-held was die legendariese motorfietsjaer Alfie Cox wat drie keer op die podium gestaan het, maar daarna was daar nie veel ernstige pogings op twee wiele nie. Branch en Gilbert het dit nou reggestel, en het buiten hul eerste en tweede plekke in die afdeling vir nuwelingjaers 13de en 19de algeheel geëindig.

Meer oor:  Giniel De Villiers  |  Nasser Al-Attiyah  |  Suid-Afrika  |  Katar  |  Suid-Amerika  |  Dakar  |  Kampioen  |  Toyota
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.