Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Ná Tour-afjak steek Geraint tong uit
Die Brit Geraint Thomas toe hy die Tour de France in 2018 gewen het. Foto: Getty Images

Die Britse fietsryer Geraint Thomas het duidelik die afjak wat hy ontvang het deur oor die hoof gesien te word vir die Tour de France, verwerk – en sommer ook tong uitgesteek vir sy span se ringkoppe.

Thomas (34) was tweede in die Tirreno-Adriatico, ’n wedren oor agt skofte, wat Maandag in Italië geëindig het. Die laaste skof was ’n individuele tydtoets oor 10,05 km, met Thomas wat die vierde vinnigste tyd – 28 sekondes ná die wenner – aangeteken het.

Die Italianer Filippo Ganna, wat soos Thomas vir die Ineos Grenadiers ry, het die vinnigste tyd (tien minute en 42 sekondes) behaal.

Die 34-jarige Thomas, wat voor die aanvang van die laaste skof algeheel in die derde plek was, het opgeskuif om die naaswenner te wees.

Simon Yates

Nog ’n Brit, Simon Yates (Mitchelton-Scott), was die algehele wenner. Sy tweelingbroer, Adam, is tans algeheel in die vyfde plek in die Tour de France.

Met die vertoning het Thomas, wat die Tour in 2018 gewen en in 2019 tweede was, ’n duidelike aanduiding gegee dat hy op pad terug na sy beste peil is. Sy span het verlede maand skokgolwe deur die fietsrywêreld gestuur deur hom en Chris Froome oor die hoof te sien vir die Tour.

Die vertoning sal Thomas baie selfvertroue gee vir die Giro d’Italia, wat op 3 Oktober begin. Drie van die 21 skofte is individuele tydtoetse – iets wat Thomas, ’n baanryer vroeër in sy loopbaan, soos ’n handskoen sal pas.

“Ek is beslis gelukkig. Ek dink ek het baie verbeter van waar ek ’n paar weke gelede was en ek sien baie uit na die Giro,” het Thomas in ’n TV-onderhoud ná die tyd gesê.

Van Froome, ’n viermalige Tour-wenner, gepraat – hy het ’n beskeie 91ste geëindig. Sy fokus vir vanjaar is die Vuelta a España, wat op 20 Oktober begin.

Suid-Afrika se Louis Meintjes (NTT) het algeheel 12de geëindig.

Meer oor:  Simon Yates  |  Geraint Thomas  |  Brittanje  |  Fietsry  |  Ineos  |  Tirreno-Adriatico  |  Tour De France
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.