Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Natalie du Toit benoem vir gesogte prys

Die voormalige Paralimpiese kampioen Natalie du Toit is deur Laureus benoem vir die Sportoomblik van die Afgelope 20 Jaar.

Natalie du Toit in 2012 met een van die medaljes wat sy by die Paralimpiese Spele in Londen verower het. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaner is op ’n lys van bekendes, met onder andere Sachin Tendulkar, Venus Williams, Bethany Hamilton, Michael en Mick Schumacher, Brett Lee (Australië) en Andrew Flintoff, wat sal meeding om dié gesogte prys.

Laureus vier in 2020 20 jaar van pryse uitdeel aan sportsterre en as deel van dié herdenking het hy ’n uitsoeklys opgestel van oomblikke in sport oor die afgelope twee dekades wat uitgestaan het.

Du Toit is in 2001 erg beseer in ’n motorongeluk toe ’n voertuig haar van haar bromponie afgestamp het terwyl sy op pad huis toe was ná ’n swemoefening.

Haar linkerbeen moes gedeeltelik geamputeer word, maar net drie maande later was sy weer terug in die swembad en vasbeslote om ’n plek in die span vir die 2002-Statebondspele in Manchester los te swem.

Nie net het sy die span gehaal nie, maar sy het die wêreld laat regop sit met twee goue medaljes by dié byeenkoms.

Sy is die eerste vroue-para-atleet wat vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer het toe sy in 2008 vir die byeenkoms in Beijing gekies is.

Du Toit, wat ná afloop van die 2012- Olimpiese en Paralimpiese Spele in Londen uitgetree het, spog met ’n ongelooflike Paralimpiese rekord van 13 goue medaljes en twee silwer. Sy het ook sewe goue medalje by die Statebondspele verower.

Sy is in 2010 as Laureus se Sportvrou van die Jaar met ’n Gestremdheid gekroon.

Luidens ’n verklaring deur Laureus vier die Sportoomblik-prys oomblikke in sport wat “mense verenig het in die mees ongelooflike wyse, wat gewys het hoe sport die vermoë het om die wêreld te verander”.

“Sport het die vermoë om te inspireer. Dit het die krag om mense te verenig op ’n manier wat min dinge kan. Dit praat met die jeug in ’n taal wat hulle verstaan. Sport kan hoop skep waar daar eens net wanhoop was,” lui die verklaring.

Daar sal drie uitkloprondes wees met die voorste 20 wat uitgedun sal word tot die voorste 10, dan vyf en die wenner wat eindelik by die Laureus-toekennings op 17 Februarie in Berlyn aangekondig sal word.

* Ondersteuners kan self ook stem op Laureus se webblad tot en met 16 Februarie.

* Die lys van benoemdes vir Laureus se Sportoomblik van die Afgelope 20 Jaar is:

Matthias Steiner (Oostenryk);

Natalie du Toit (Suid-Afrika);

Sachin Tendulkar (Indië);

Chapecoense se sokkerspan (Brasilië);

Miroslav Klose (Duitsland);

Cathy Freeman (Australië);

Barcelona se o.12 sokkerspan;

Elizabeth Marks (VSA);

Vlugteling- Olimpiese span wat aan die 2016-Spele in Rio de Janeiro deelgeneem het;

Alistair Brownlee en Jonny Brownlee (Engeland);

Japan se nasionale sokkerspan;

Nick Butter (Engeland);

Venus Williams (VSA);

Bethany Hamilton (VSA);

Michael en Mick Schumacher (Duitsland);

Brett Lee (Australië) en Andrew Flintoff (Engeland);

Alex Zanardi (Italië);

Sky Brown (Engeland);

J.J. Watt (VSA); en

Xia Boyu (China).


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.