Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Nathi dreig 3 sporte oor transformasie
Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur, is op die transformasie-oorlogspad.

Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur, is ontevrede oor gebrekkige transformasie in krieket, hokkie en swem.

Nou dreig Mthethwa om hul regeringsubsidies te onttrek en om dié drie sportbeheerliggame te verbied om te bie om internasionale byeenkomste aan te bied.

Hy dreig ook om hul reg weg te vat om nasionale kleure toe te ken en selfs om hulle as ’n amptelike en nasionaal erkende sportfederasie te skrap.

Dít volg nadat Mthethwa die Eminent Persons Group (EPG), wat transformasie onder 19 Suid-Afrikaanse sportkodes monitor, se jaarverslag van 2018/’19 bestudeer het.

Dié verslag is in Junie ingedien en die minister het vandeesweek met Krieket Suid-Afrika (KSA), Swem Suid-Afrika (SSA) en die Suid-Afrikaanse Hokkievereniging daaroor vergader.

Hokkie en swem het albei minder as die vereiste 50% van hul teikens behaal, wat hulle in gevaar stel om gestraf te word. Al het krieket 70% van sy teikens behaal, wat genoeg moet wees om sanksies te vermy, het KSA slegs “voorwaardelike goedkeuring” gekry, omdat hy “onder meer swak gevaar het wat die verteenwoordiging van etniese swart spelers betref”.

Die drie beheerliggame moet elk nou voor die einde van die week motiverings indien oor waarom die bogenoemde strawwe nie op hulle afgedwing moet word nie.

Alan Fritz, SSA se president, het ’n pleidooi aan die minister gelewer om dié beheerliggaam liewer by te staan in sy strewe daarna om transformasie te bewerkstellig.

“Uit die staanspoor moet ek sê die reëls is daar en die minister is daarvolgens reg om te sê wat hy gesê het,” het Fritz aan Netwerk24 gesê.

Geriewe ontbreek geweldig. Ons het hulp nodig. Ons het regeringslui en die korporatiewe wêreld nodig om ons te ondersteun as ons die sport wil transformeer.
Alan Fritz

“In swemgeledere het ons ’n hele paar uitdagings wat transformasie betref. Geriewe ontbreek geweldig. Ons het hulp nodig. Ons het regeringslui en die korporatiewe wêreld nodig om ons te ondersteun as ons die sport wil transformeer.”

Hy sê dit sal teenproduktief wees as swemmers deur middel van ’n straf benadeel word.

“As ons nie geriewe het nie, kan ons nie mense leer swem nie. En ons is ’n federasie wat op die randjie van bankrotskap staan. Die regering gee vir ons net minder as R2 miljoen per jaar, maar selfs daarsonder kan ons nie klaarkom nie.”

Alan Fritz, president van Swem Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Fritz sê Mthethwa was duidelik dat hy alle federasies sal ondersteun wat transformasie wil bevorder. Swem SA sal nou Vrydag sy verweer indien oor waarom hy nie sy teikens gehaal het nie.

“Ons probeer ons bes, maar as die geriewe nie daar is nie, wat kan jy doen? Ek is nie gekant teen sanksies as jy doelbewus nie die reëls nakom nie, maar dis nie wat ons doen nie.”

’n Woordvoerder van KSA sê die beheerliggaam neem kennis van die minister se kommentaar en sal die kwessie dringend hanteer.

Die minister het KSA ook ingelig dat hy met ’n groep gegriefde swart oudspelers vergader het oor “sistemiese rassisme binne krieket”. Daar moet ’n dag opsygesit word om dié kwessie te bespreek, sê Mthethwa.

Marissa Langeni, die uitvoerende hoof van Hokkie Suid-Afrika, sê hulle gaan nog samesprekings met die EPG voer vandeesweek en sal daarna in ’n beter posisie wees om kommentaar te lewer.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Johannesburg  |  Transformasie  |  Sportminister  |  Swem  |  Hokkie  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.