Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Wonderwerk’ sou fietsryer (22) kon red
Die Belgiese fietsryer Bjorg Lambrecht (22) is dood nadat hy op die derde skof van die fietsren in Pole met sy fiets geval het. Foto: Twitter / @Lotto_Soudal

Die Belgiese fietsryer Bjorg Lambrecht (22) is dood aan “massiewe inwendige bloeding” en net ’n "wonderwerk" sou hom ná sy noodlottige ongeluk in die Poolse fietsren, Tour de Pologne, kon red, sê die spandokter.

Die ongeluk het Maandag gebeur toe Lambrecht in die derde skof oor ’n drein in die pad beheer oor sy fiets verloor en met ’n betonbrug gebots het.

SuperSport berig oor die verduideliking wat Maarten Meirhaeghe, die Lotto Soudal-spandokter, oor die aard van Lambrecht se beserings gegee het.

"Bjorg het gesterf weens ’n geweldige slag teen sy lewer, wat massiewe inwendige bloeding veroorsaak en tot hartversaking gelei het," sê Meirhaeghe.

"Bjorg het dit op die ergste manier moontlik sleg getref want sulke inwendige beserings kan net deur ’n wonderwerk oorleef word.

“Die tyd en plek het geen invloed gehad nie. Selfs al het ’n soortgelyke trauma in ’n hospitaal gebeur, is die kanse groot dat die uitkoms soortgelyk sou wees.”

Lotto Soudal se spanlede en die bestuur was Dinsdag tot laatnag in samesprekings om te besluit of hulle met die fietsren moes voortgaan. Daar is toe besluit om vir die vyfde skof aan te tree en “ter nagedagtenis aan Bjorg” deel te neem.

Volgens die organiseerders van die fietsren het Lambrecht se ouers hom Maandag by die beginpunt afgesien en vir hom by die eindstreep gaan wag.

Lambrecht is op die ongelukstoneel bygebring en in ’n kritieke toestand geneem na ’n hospitaal in Rybnik, waar hy later in die teater gesterf het.

Die stad se openbare aanklaer is besig met ’n ondersoek na die oorsaak van die ongeluk.

Lambrecht was slegs in sy tweede seisoen as ’n beroepsfietsryer. Hy is in Junie in die Criterium du Dauphine as die belowendste jongeling aangewys.

– Sportredaksie

Meer oor:  Fietsry  |  Bjorg Lambrecht
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.