Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Netbal betree beroepsera in Wes-Kaap

Die Wes-Kaap word vanjaar die eerste provinsie in Suid-Afrika waar netbal professioneel bedryf en spelers vergoed sal word.

Verteenwoordigers van die Wes-Kaapse netbaldistrikte en die organiseerders van die liga het die afgelope Saterdag ’n geskiedkundige vergadering in Stellenbosch bygewoon. Voor staan Marsha Wagenaar (Kaapstad), Cornel Syfers (Overberg), Valerie Goliath (Karoo) en Hettie Las (Eden). In die middel is Louis Heyns (Stellenvest), Suzette Visser (Weskus), Charmaine Cooper (Overberg) en Bennie Saayman (Kaapse Wynlande) en agter is Charlotte Scholtz (StellenSport), Johan Botha (Stellenvest), Freda Kemp (StellenSport), Erin Burger (SSL/PVM en ambassadeur) en Neil du Plessis (SSL/PVM). Foto: Annchen Nel

Tien spanne sal in Oktober en November aan die eerste StellenSport Professionele Liga deelneem en groot borgskappe word tans beklink.

Die wedstryde sal waarskynlik in Stellenbosch plaasvind en sal regstreeks op televisie uitgesaai word.

Die Wes-Kaap se voorste spelers gaan mekaar uitdaag om die spanne te haal – drie spanne van die Kaapse Wynland, drie van die Kaapse metro en een elk van die Karoo, Overberg, Weskus en Eden sal in aksie wees.

’n Nuwe maatskappy, StellenSport, gaan die kompetisie aanbied.

Die Stellenbosse sportwetenskaplike en netbalafrigter Freda Kemp is die uitvoerende hoof daarvan.

Die gewese Proteas Erin Burger en Zanele Mdodana sal as ambassadeurs vir die liga optree. Burger sal ook ’n hoëprestasie-program aanbied.

“Ons begin as ’n mini-nasionale liga. As dit suksesvol is, kan dit volgende jaar na ses maande verleng word en selfs ’n nasionale liga word,” glo Kemp.

Netbal Suid-Afrika (NSA) se Nasionale Liga-kompetisie sal vanjaar tussen Mei en Julie beslis word.

So ’n liga is ’n droom wat bewaarheid word, sê Kemp, wat die afrigter was van die klub Van der Stel, asook ’n hulpbreier van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

Freda Kemp is die dryfveer agter die StellenSport Professionele Liga.

“Ons droom groot. Ons wil StellenSport volgende jaar na ses maande verleng. Die struktuur wat ons probeer instel, sal spelers die geleentheid gee om netbal professioneel te beoefen en nie op 25 uit te tree wanneer hulle hul universiteitstudie voltooi nie,” sê Kemp, wat besig is met haar doktorsgraad in netbal-tegnologie.

Die spelers sal baat vind by Burger se hoëprestasieprogram en afrigting en sy sal by elke distrik betrokke wees.

Die liga is nie net beperk tot seniors nie. Spelers op o.14-, o.16- en o.18-vlak sal in klubspanne betrek word.

“Ons wil die gehalte van ons spelers verbeter en toekomstige Proteas kweek,” sê Kemp.

Norma Plummer, gewese afrigter van die Proteas en Australië, het reeds ingestem om einde Maart in die Eikestad kursusse aan te bied vir senior afrigters en elite-spelers.

Nicole Cusack, haar hulpafrigter toe sy Suid-Afrika afgerig het, sal haar bystaan.

Kemp wil ook sakevroue wat geesdriftig is oor netbal betrek. Hulle sal die geleentheid hê om ’n minderbevoorregte speler “aan te neem”, want die akademie sal nie agterweë bly nie.

“ ’n Speler sal nie nét netbal kan speel nie,” sê Kemp.

Bennie Saayman, president van die Wes-Kaapse Federasie, en Marsha Wagenaar (visepresident) is verheug oor die geleentheid vir Wes-Kaapse spelers.

Kemp sien in haar geestesoog ’n netbalsentrum. “Daar is geen binnenshuise sentrum in Suid-Afrika wat aan internasionale standaarde voldoen nie. Met die Wêreldbeker-toernooi in Kaapstad in 2023 om die draai, is dit nou tyd om ons gewig agter ons grootste vrouesport te gooi,” sê Kemp.

“Ons het hier in Stellenbosch ’n geleentheid om ’n internasionale netbalmekka te vestig.

“Ons wil die spel ontwikkel, maar dit – en die borgskappe wat ons gaan kry – soos ’n sakeonderneming bestuur,” sê Kemp.

Meer oor:  Netbal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.