Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Jo beplan volstoom aan beroepsliga

Omdat sy self brand om haar sport heeltyds te kan beoefen, beywer die Wes-Kaapse netbalspeler Jo Prins haar nou om dié droom vir alle Suid-Afrikaanse spelers moontlik te maak.

Jo Prins verlede jaar in aksie vir die Maties in die Varsitybeker-reeks. Sy is as die Stellenbossers se Sportvrou van die Jaar aangewys en was die beste senterbaanspeler in die Nasionale Liga. Foto: Saspa | Catherine Kotze

Prins is die Stellenbosse maatskappy StellenSport se “veelsydige speler” – ambassadeur, skole-afrigter, sosialemedia-bemarker en tans, tydens die inperking, fiksheidsbreier met behulp van Facebook-video’s.

StellenSport, onder leiding van Freda Kemp, het groot planne gehad om vanjaar die “StellenSport Professionele Liga” te begin. Die voormalige Protea-afrigter Norma Plummer sou die liga in April in die Eikestad bekend gestel het, maar die koronavirus-pandemie het ’n stokkie daarvoor gesteek.

Kemp-hulle wou die reeks in Oktober en November met tien Kaapse spanne begin, met die groot droom om die spelers te kon betaal.

Dit is nou onwaarskynlik, met Netbal Suid-Afrika (NSA) se kompetisiedatums wat weens Covid-19 in ’n warboel is.

Prins sê as die liga nie vanjaar kan begin nie, gaan hulle hard werk om volgende jaar met ’n spogproduk te begin.

“Die liga gaan nie inbreuk maak op NSA se kompetisies nie. Dit is net nog ’n geleentheid vir spelers om meer te speel, meer spelers kanse te gee sodat hulle dit dan uiteindelik heeltyds kan doen,” sê die 24-jarige Prins.

“Die inperking is nie ideaal nie, maar dit gee ons meer tyd om die logistiek en reëlings uit te werk en dit dan volgende jaar suksesvol aan te bied.

“Die doelwit is om teen 2022 so suksesvol te wees, dat ’n speler heeltyds netbal kan speel,” sê Prins.

Ons kan nie terugsit en TV kyk nie.

Sy sê as die liga nie vanjaar kan begin nie, wil hulle iewers in ’n naweek wedstryde speel om die spanne en afrigters bekend te stel en voorbrand te maak vir 2021.

Prins is ook in die Wes-Kaapse streekspan, die Stings, se oefengroep met die oog op die Nasionale Liga.

Dié reeks was veronderstel om verlede naweek te begin.

Prins sê spelers is nog hoopvol dat die Liga en die Suid-Afrikaanse toernooi vanjaar beslis sal kan word.

Die kampioenskapstoernooi is vir 3 tot 8 Augustus geskeduleer.

Dié twee toernooie móét beslis word – al speel hulle vanjaar geen ander netbal nie, sê Prins.

Spelers en afrigters bly intussen in kontak op hul WhatsApp-groep, hou spanvergaderings op Zoom en volg hul oefenprogram, sê sy.

“Ons kan nie terugsit en TV kyk nie. Ons moet gereed wees wanneer die inperking gelig word en ons na die baan kan terugkeer.”

Prins het verlede jaar haar onderwysgraad behaal, maar die klaskamer eers opsygeskuif om haar netbaldrome na te jaag.

Meer oor:  Nsa  |  Netbal  |  Jo Prins  |  Netbal Suid-Afrika  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.