Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Netbal: Taai toetse is nodig, sê Pretorius

Daar was ’n blye weersiens toe Suid-Afrika se afrigters hul netbalspelers weer in die nuwe jaar gesien het.

Hul ster-verdediger Karla Pretorius sou egter vir die grootste glimlagte gesorg het.

Die ervare Pretorius het haar weer by haar spanmaats aangesluit nadat sy ná Julie se Wêreldbeker-toernooi ’n kort blaaskans gegun is.

Die Proteas begin hul 2020-seisoen Sondag teen Jamaika in die “nuwe” Vierhoekige Nasiesbeker-toernooi, wat in Nottingham, Birmingham en Londen beslis word.

Karla Pretorius is weer terug vir die Suid-Afrikaanse netbalspan. Foto: Gallo Images

Australië sit vir eers op die kantlyn met die Jamaikaanse Sunshine Girls wat sy plek geneem het. Engeland en Nieu-Seeland is die ander spanne.

Dorette Badenhorst, die SA hoofafrigter, en haar assistent, Dumisani Chauke, sal bitter bly wees dat Pretorius terug is.

Sy is beslis gemis in Suid-Afrika se reeksnederlaag van 1-2 teen die Engelse einde verlede jaar.

Ná baie wedstrydtyd vir die Proteas en haar Aussie-span, die Sunshine Coast Lightning, het Pretorius gerus, in Suid-Afrika gereis en saam met familie en vriende gekuier.

Nou is die 29-jarige hulpdoelverdediger weer vuur en vlam vir aksie.

“Toe ek einde November Suid-Afrika se toetse teen Engeland gekyk het, was ek lus om weer te speel.

“Met die eerste oefensessie was ek opgewonde om weer op die baan te gaan. Dit is goeie tekens dat jy steeds doen waarvoor jy lief is,” sê Pretorius.

Verlede jaar se Driehoekige reeks het selfs vroeër in Januarie begin, en Pretorius sê dit is nie ’n probleem dat die seisoen vroeg afskop nie.

“Dit is perfek vir die spelers wat in Engeland speel. Hul voorseisoen het reeds begin vir hul Superliga, wat in Februarie begin.

“Ons wat in Australië speel, se voorseisoen begin nou eers,” sê Pretorius.

Die Kiwi’s se Premierliga begin in Maart, met die Aussies se Superliga eers in Mei.

Suid-Afrika se Nasionale Liga sal glo ook eers in Mei begin.

Dit is ’n gewigtige taak wat so vroeg op die Proteas wag.

Die Silwervarings is nr. 2 op die wêreldranglys en die wêreldkampioen-span, terwyl die Engelse Rose die derde plek beklee met die Jamaikane vierde en die Proteas vyfde.

Pretorius, die SA onderkaptein, meen egter jy sê nooit nee vir toetse teen topspanne nie.

“Ja, dit is drie taai teenstanders. Dit gaan goed wees om ons teen hulle te meet en sien waar ons staan,” sê Pretorius.

Die Proteas pak Jamaika Sondag om 16:30 in Nottingham. Hulle speel Dinsdag teen Engeland in Birmingham en volgende Saterdag teen Nieu-Seeland in Londen. Daarna wag uitspeelwedstryde.

Meer oor:  Karla Pretorius  |  Netbal  |  Proteas  |  Vrouesport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.