Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Netballiga in bioborrel in Bloem beslis
Lefébre Rademan sal vanjaar weer die Crinums aanvoer. Foto: BackpagePix

Ná maande se frustrasie weens die Covid-19-pandemie, sal die plaaslike netbalseisoen uiteindelik in Oktober begin met die Nasionale Liga, wat in ’n bioborrel beslis sal word.

Netbal Suid-Afrika (NSA) het Maandag sy planne vir vanjaar se reeks bekend gemaak, met die liga wat van 14 tot 27 Oktober in Bloemfontein gespeel sal word. Dit sal in die Mangaung-sportkompleks plaasvind – met geen toeskouers wat toegelaat sal word nie. Die wedstryde sal wel op SuperSport uitgesaai word.

Spelers sal reeds op 8 Oktober die bio-veiligheidsborrel betree, waar hulle aan streng gesondheidsprotokolle onderwerp sal word.

Die besluit om die toernooi in ’n bioborrel te speel, is om die verspreiding van die koronavirus te probeer beperk.

Aanvanklik sou die toernooi in Mei, oor ses weke en in drie provinsies, beslis geword het, maar die virus het dit in die wiele gery.

Die Jaguars het die afgelope drie jaar die kompetisie gewen, maar die Crinums – die Vrystaatse span en self ’n driemalige wenner – sal hoop op sukses in sy eie agterplaas.

Verdere goeie nuus vir netbalgeesdriftiges is dat die deelnemende spanne van tien na 12 vermeerder is. Die Tornadoes, ’n bykomende span van die Wes-Kaap, en die Kingdom Queens van KwaZulu-Natal is die nuwe spanne.

“Soos wat ons oor die jare gesels het dat ons die sport wil laat groei, is dit een manier om dit te doen,” sê Cecilia Molokwane, NSA se president, volgens ’n verklaring.

“Die besluit om nog twee spanne te hê, is geen verrassing nie, want wanneer jy na die Wes-Kaap kyk, het hulle (die Southern Stings) omtrent elke jaar in die eindstryd gespeel. KZN is ons grootste provinsie en ons het daarom besluit om seker te maak dat ons daar begin.”

• Die nasionale o.21-span sal ook in vertoonwedstryde by die toernooi in aksie wees onder die wakende oog van sy afrigter, Elsje Jordaan. Dit sal die spelers wedstrydoefening gee nadat Afrika se kwalifiserende toernooi vir die Wêreldbeker-jeugtoernooi in 2021 in Fidji gekanselleer is.

Meer oor:  Netbal  |  Bioborrel  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.