Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Netbalskok: 3 topspanne word afgekeur

Twee spanne wat die afgelope ses jaar Suid-Afrikaanse netbal se voorste kompetisie oorheers het, moet terug na die tekenbord voordat hulle vanjaar sal kan speel.

Die Jaguars van Noord-Gauteng vier verlede jaar hul oorwinning in die Nasionale Liga. Foto: BackpagePix

Die Noord-Gautengse Jaguars en die Vrystaatse Crinums, asook die Flames van Noordwes, se groepe vir vanjaar se Nasionale Liga is nie deur Netbal Suid-Afrika (NSA) goedgekeur nie.

Die Crinums was van 2014 tot 2016 bobaas in die Liga toe dit as die Brutal Fruit-liga bekend gestaan het. Die Jaguars is sedert 2017 die kampioen. Telkom het in 2019 die nuwe hoofborg geword.

Tien spanne van die nege provinsies neem deel aan die liga. Die kompetisie is vanjaar tot 12 spanne uitgebrei, sodat die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal nes Gauteng ook twee spanne kan hê.

Die spanne moes die afgelope week hul groepe van 15 spelers, asook die name van hul spanbestuurslede, aan NSA voorlê. Spelers moes ook by ’n klub registreer en hul ledegeld betaal.

’n Brief oor die Liga, wat aan distrikte gerig is en Donderdagaand op Facebook geplaas is, het gou reaksie ontlok.

Dit blyk dat NSA wil sien of spelers van al die distrikte in ’n provinsie ’n regverdige kans gekry het om ’n groep te haal.

“Provinsiale strukture het sewe jaar gehad om spelers te ontwikkel sedert die ontstaan van die Nasionale Liga in 2013. Dit is teleurstellend om te sien dat sommige van die Telkom-netbalspanne verteenwoordig word deur spelers van een klub of een distrik,” lui die brief.

Riana Bezuidenhout, president van Gauteng Netbal. Foto: Verskaf

“Provinsiale strukture het die verantwoordelikheid om spelers én administrateurs die geleentheid te gee om hul provinsies op nasionale vlak te verteenwoordig en toe te sien dat spelers ontwikkel word.”

Terwyl die Golden Fireballs hoofsaaklik uit spelers van Johannesburg en die Oos-Rand bestaan, is die Jaguars van Pretoria hoofsaaklik Tuks-studente.

Ook die Vrystaatse Crinums en die Flames is hoofsaaklik universiteitstudente, en dit is waarskynlik wat NSA grief.

Cecilia Molokwane, president van NSA, het Vrydag by navraag gesê sy hoef nie in die media te verduidelik nie. “Die provinsies weet presies wat hulle moet doen,” sê sy.

Riana Bezuidenhout, president van Gauteng Netbal, het by navraag gesê hulle sal weer na hul “prosesse” moet gaan kyk.

Sy sê sy is besig met verslae en befondingsvoorstelle vir die departement van sport vir wanneer netbal hervat kan word en sal volgende week aan dié kwessie aandag gee.

Afhangende van die Covid-19-situasie sal die Nasionale Liga in September en Oktober of in November en Desember plaasvind.

Meer oor:  Cecilia Molokwane  |  Crinums  |  Nasionale Netballiga  |  Nsa  |  Netbal  |  Flames  |  Netbal Suid-Afrika  |  Jaguars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.